Wie Is God?Sample

Is daar hoop?
Kurt Vonnegut het ‘n boek geskryf, Cat’s Cradle. John, die hoofkarakter, beplan 'n boek oor die dag dat die wêreld eindig. Terwyl hy besig is met sy navorsing kom John op 'n hoofstuk in 'n boek af met die titel: "What Can a Thoughtful Man Hope for Mankind on Earth, Given the Experience of the Past Million Years?" Dit neem John nie lank om die hoofstuk te lees nie, want dit bestaan uit net een woord: "Nothing", gevolg deur 'n punt.
Die boek beskryf die gevoel wat baie mense vandag het. Daar is geen hoop op die langtermyn nie. “Nothing”. Oor die onmiddellike toekoms kan mens dalk optimisties wees. Maar op die langtermyn lyk dinge bleek. Daar is geen hoop nie.
Is ons uitgelewer aan die noodlot?
'n Inskripsie in 'n grafkelder in die einste Tessalonika illustreer hoe dié hooploosheid nie net ‘n moderne gevoel is nie. Min mense in die heidense bevolking van die stad het enige hoop vir ‘n lewe anderkant die graf gehad. So staan dit geskryf:
Vanweë haar besondere geaardheid en aangename persoonlikheid, het haar toegewyde eggenoot, Eutropos, hierdie grafkelder vir haar gebou. Dit is ook vir homself, sodat hy later 'n plek sal hê waar hy saam met sy geliefde vrou kan rus. Dit is vir wanneer hy die einde van die lewe bereik op die tyd wat die noodlot onafwendbaar vir hom voorberei het.
Eutropos se enigste hoop vir na die dood is om saam met sy vrou begrawe te word in die familie se grafkelder.
Dit is egter heel anders met die Christelike geloof, skryf Paulus.
Daar is hoop
Paulus skryf in sy eerste brief aan die Tessalonisense oor die drie Christelike deugdes. Geloof, liefde en hoop. In die gedeelte wat ons gelees het, is hy spesifiek besig met die derde deug: hoop.
Dit wil voorkom asof sommige gelowiges in Tessalonika depressief geraak het oor die lot van hulle geliefdes na hulle dood. Soos baie van hulle ongelowige tydgenote. Dit kan selfs wees dat van dié sterftes was weens die vervolging vir hulle geloof waarvan Paulus vroeër in die brief melding maak.
Paulus wil egter nie hê die gelowiges in Tessalonika onkundig moet wees oor die dood nie. Ook nie oor diegene wat al dood is nie, sodat hulle nie treur soos mense wat geen hoop het nie.
Die hoop is vir ons hele lewe
Die hoop waarvan Paulus praat, het betrekking op ons hele lewe.
Dit het betrekking op die verlede.
Paulus verkondig dat die mense wat reeds dood is, by God lewe. In kort, sê hy, die wat reeds gesterf het, is by die Here.
Dit het betrekking op die toekoms wat vir ons wag.
Paulus verkondig dat Jesus Christus weer sal kom om die aarde nuut te maak. Dit wat God aan Christus se liggaam in die graf gedoen het — om dit op te wek tot lewe — is wat God in Christus met die res van die skepping gaan doen.
Dit het ook betrekking op die hede, dié ervaring van vandag.
Die feit dat ons geliefdes by die Here is, troos ons. Die feit dat Jesus alles weer nuut sal maak, troos ons. Maar, heel spesifiek, die feit dat Jesus se opstanding ook ons voorland is, laat ons met hoop lewe. Vandag. En elke dag. Dit vul ons die vreugde van die teenwoordige Here.
Want dit is nou reeds waar dat die Here vir altyd by ons is, soos ons aan die einde van die tyd altyd by Hom sal wees.
Ons hartseer word getemper deur hoop
Ons sal natuurlik die verlies aan geliefdes betreur en groot hartseer ervaar. Ook in opstand kom oor die dood, want selfs al verwag ons die dood weens ons verganklikheid, is dit steeds ‘n vergryp aan God se goeie skepping.
Ons hoef egter nie te treur soos mense sonder hoop nie. Jesus het nie net gesterf het, maar ook uit die dood opgestaan. En Hy belowe dit vir almal wat in Hom glo.
En ons het hierdie toekomsverwagting dat ons weer met ander gelowiges herenig sal word. Soos Paulus dit aan ons verkondig: "dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring."
Vreugdevolle ontmoeting
Wanneer die bevel aan die einde van die tyd gegee word en die stem van die aartsengel en die basuin (trompet) van God weerklink, sal daar 'n paar dinge gebeur. Die Here Jesus sal uit die hemel neerdaal. Dan sal dié wat in Christus gesterf het, liggaamlik opstaan uit die dood, en saam met Hom die koninkryk van God betree. Daarna sal diegene wat nog lewe by die wederkoms, verander word en saam met die ontslape gelowiges die koninkryk van God betree.
Dit is met hierdie vaste verwagting wat ons mekaar troos. Die dood is nie die einde nie. Vir elkeen wat wedergebore is, sal daar die ewige lewe wag. Die tweede dood sal oor ons geen mag hê nie. Vir dié wat egter die Here se werk in hulle lewe weerstaan het in dié lewe, sal die tweede, en ewige dood wag.
Soos iemand opgemerk het: “Once born, twice dead. Twice born, once dead.” Alle wedergeborenes sal die dood net een keer ervaar en daarna die ewige lewe binnegaan. Alle onwedergeborenes sal die dood twee keer ervaar, en die tweede dood sal vir ewig wees.
Jesus is ons hoop
Wat Paulus vir ons hier in sy brief onderstreep, is dat ons hoop uiteindelik in Iemand is, in die Here Jesus Christus self, wat was en wat is en wat kom. God self is die bron van ons hoop. Ons kan verseker wees van Hom, van wie en wat Hy is, van wat Hy gedoen het en nog sal doen.
Ons word deur sy woorde en werke vertroos. Hy vervul ons met verwagting en vertroue, omdat Hy self die inhoud van die beloftes en die hoop van die ewige lewe is, omdat Hy self die waarborg daarvan is.
Ons hoop is dus ten diepste nie die lewe na die dood nie, maar die Here Jesus Christus self. Dit is hierdie Jesus wat ook vir ons gesterwe en opgestaan het. In Hom het ons lewe, in hierdie wêreld, en in die wêreld wat kom.
Scripture
About this Plan

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More
Related Plans

The Letter to the Philippians

How to Love Your Work and God

Lighting Up Our City Video 2: Avoiding Insider Language

Faith in Action: A Journey Through James

Life@Work - Sharing Your Faith in the Workplace

The Discipline of Study and Meditation

How to Love Like Jesus

How Is It With Your Soul?

My Problem With Prayer
