YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 167 OF 364

Vraag 24: Waar kom die ware geloof vandaan? — Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Nederlandse Geloofsbelydenis 24, Heidelbergse Kategismus 65, Dordtse Leerreëls 2.1.6-7; 3-4.1.12-14 en Westminster Geloofsbelydenis 11. Wat leer jy waar die ware geloof vandaan kom? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Nederlandse Geloofsbelydenis 24

ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van `n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem 'n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Galasiërs 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het.

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van 'n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.

Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie — wat sou ons tog kon verdien? Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filippense 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: "... wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: 'Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen'" (Lukas 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawe bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie.

Romeine 10:17; Johannes 5:26; Efesiërs 2:4; Johannes 8:36; Titus 2:12; Johannes 15; Hebreërs 11:6; 1 Timoteus 1:5; Galasiërs 5:6; Titus 3:8; Romeine 9:32; Titus 3:5; Matteus 7:17; Romeine 14:23; Hebreërs 11:4; Genesis 4:4; 1 Korintiërs 4:7; Filippense 3:13; Jesaja 26:12; Galasiërs 3:5; 1 Tessalonisense 2:13; Lukas 17:10; Romeine 2:6; Openbaring 2:13; 2 Johannes :8; Romeine 11:5 (6-7); (Efesiës 2:5); Jesaja 64:6; 1 Korintiërs 3:11; Jesaja 28:26; Romeine 10:11; Habakuk 2:4.

Heidelbergse Kategismus 65

Vraag: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan?

Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente (b).

(a) Efesiërs 2:8; 6:23; Johannes 3:5; Filippense 1:29. (b) Matteus 28:19; 1 Petrus 1:22-23.

Dordtse Leerreëls 2.1.6-7; 3-4.1.12-14

Hoofstuk 2: DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENSE DEUR SY DOOD

6. Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld.

7. Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.

Hoofstuk 3 en 4: DIE VERDORWENHEID VAN DIE MENS, SY BEKERING TOT GOD EN DIE WYSE WAAROP DIT PLAASVIND

12. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige ander wyse in ons gewerk nie, sodat, na die voltooiing van God se werk, dit dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge, geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.

13. Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle 'n gerusstelling dat hulle weet en oortuig is dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet.

14. So is die geloof dan 'n gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie, maar omdat dit aan die mens inderdaad geskenk word en vir hom ingegee en ingestort word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo gee nie en daarna van die vrye wil van die mens die instemming of die daadwerklike geloof verwag nie. Sowel die wil om te glo as die geloof self word in die mens tot stand gebring. Immers, Hy wat in die mens werk om te wil sowel as om te werk, bewerk alles in almal.

Westminster Geloofsbelydenis 11

Regverdiging

1. Diegene wat God daadwerklik roep, regverdig Hy ook vryelik.1 Hy stort nie geregtigheid in hulle uit nie, maar vergewe hulle sondes en sien dit aan en aanvaar dit asof hulle regverdig is — nie op grond van enigiets wat daarin gewerk of deur hulle gedoen is nie, maar ter wille van Christus alleen. Hy beskou nie hulle geloof self, die daad van glo, as hulle geregtigheid of enige ander gehoorsame reaksie op die evangelie van hulle kant nie. Hy reken hulle eerder die gehoorsaamheid en geregtelike bevrediging toe wat Christus verdien het. 2 Van hulle kant ontvang en rus hulle op Christus en sy geregtigheid deur geloof (en hierdie geloof is nie hulle eie nie, maar is self 'n gawe van God). 3

1. Romeine 8.30, 3.24.

2. Romeine 4.5-8, 2 Korintiërs 5.19,21, Romeine 3.22,24-25,27-28, Titus 3.5,7, Efesiërs 1.7, Jeremia 23.6, 1 Korintiërs 1.30-31, Romeine 5.17-19.

3. Handelinge 10.43-44, Galasiërs 2.16, Filippense 3.9, Handelinge 13.38-39, Efesiërs 2.7-8, Johannes 1.12, 6.44-45, Filippense 1.29.

2. Geloof word dus ontvang en rus op Christus en sy geregtigheid, en is die enigste middel tot regverdigmaking. 4 By die geregverdigde gaan dit egter altyd gepaard met al die ander reddende genade en is dit nie 'n dooie geloof nie, maar werk deur liefde .5

4. Johannes 1.12, Romeine 3.28, 5.1, Johannes 3.16,18,36.

5. Jakobus 2.17,22,26, Galasiërs 5.6.

3. Deur sy gehoorsaamheid en dood het Christus die skuld van almal wat so geregverdig is volkome afgelos, en Hy het die regte, werklike en volle bevrediging tot sy Vader se geregtigheid namens hulle gemaak. 6 Aangesien Christus vrywillig deur die Vader vir hulle gegee is, 7 en aangesien sy gehoorsaamheid en bevrediging in hulle plek aanvaar is 8 en nie vir enigiets in hulle nie, is hulle regverdigmaking slegs die gevolg van sy vrye genade 9 — sodat sowel die volmaakte geregtigheid as die ryke genade van God verheerlik kan word in die regverdigmaking van sondaars.10

6. Romeine 5.8-10,18-19, 1 Timoteus 2.5-6, Hebreërs 10.10,14, Daniël 9.24,26, Jesaja 53.4-6,10-12, 1 Korintiërs 15.3, 2 Korintiërs 5.21, 1 Petrus 2,24, 3,18.

7. Romeine 8:32, Johannes 3:16.

8. 2 Korintiërs 5.21, Matteus 3.17, Efesiërs 5.2, Jesaja 53.6.

9. Romeine 3.24, Efesiërs 1.7, Romeine 6.23, Efesiërs 2.6-9.

10. Romeine 3.26, Efesiërs 2.7.

4. Van alle ewigheid af het God die regverdiging van al die uitverkorenes bepaal, 11 en in die volheid van die tyd het Christus vir hulle sondes gesterf en weer opgestaan vir hulle regverdigmaking.12 Nietemin word die uitverkorenes nie geregverdig voordat die Heilige Gees op die regte tyd Christus op hulle toepas nie. 13

11. Galasiërs 3.8, 1 Petrus 1.2,19-20, Romeine 8.30.

12. Galasiërs 4.4, 1 Timoteus 2.6, Romeine 4.25, 1 Petrus 1.21.

13. Kolossense 1.21-22, Galasiërs 2.16, Titus 3.4-7, Johannes 3.5,18,36.

5. God gaan voort om die sondes van diegene wat geregverdig is te vergewe.14 Alhoewel hulle nooit uit die staat van regverdiging kan val nie, 15 kan hulle deur hul sondes onder God se vaderlike misnoeë kom en nie 'n gevoel hê van sy teenwoordigheid by hulle totdat hulle nederig is, hulle sondes bely, om vergifnis vra, en hulle geloof in bekering vernuwe. 16

14. Matteus 6.12, 1 Johannes 1.7,9, 2.1-2.

15. Lukas 22.32, Johannes 10.28, Hebreërs 10.14, Filippense 1.6, 1 Johannes 2.19; sien bewyse onder Hoofstuk 17.

16. Psalm 89.31-33, 51.7-12, 32.5, Matteus 26.75, 1 Korintiërs 11.30,32, Lukas 1.20.

6. Die regverdiging van gelowiges onder die Ou Testament was in al hierdie opsigte identies met die regverdiging van gelowiges onder die Nuwe Testament. 17

17. Galasiërs 3.6-9,13-14, Romeine 4.22-24, Hebreërs 13.8, 11.13, Johannes 8.56, Handelinge 15.11, Romeine 3.30.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor waar die ware geloof vandaan kom.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More