YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 143 OF 364

Vraag 21: Wat is jou enigste troos in lewe en dood? — 1 Korintiërs 3:21-23 en 1 Korintiërs 6:18-20

Paulus skryf in hoofstuk 3 oor die Gees van God wat die essensie van ’n vervulde persoonlike en gemeentelike lewe is. Sonder die Gees is daar afguns en twis en verydeling — omdat eie begeertes die botoon vier. Met die Gees is daar insig en groei en eenheid – omdat die Gees se begeertes die botoon vier.

Dit is waarom leiers nie die een bo die ander verhef moet word in die gemeente nie, want dit gaan in die gemeenskap van gelowiges oor die werk van die Gees wat ons nie net almal saambind nie, maar ons as geloofsgemeenskap aan die Here Jesus verbind. Dit is immers die leiers wat aan die gemeente behoort, nie die gemeente aan die leiers nie!

"Alles is immers julle s’n: Paulus en Apollos en Petrus, die wêreld, die lewe en die dood, die hede en die toekoms. Alles behoort aan julle! Maar julle behoort weer aan Christus, en Christus aan God" (NLV).

Dit beteken egter ook dat jy die Gees die sentrum van jou persoonlike lewe moet maak. Daaroor skryf Paulus in hoofstuk 6. "Vlug weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ’n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie. Want as jy seksuele losbandigheid bedryf, sondig jy teen jou eie liggaam. Of verstaan julle nie dat julle liggame ’n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is teen ’n duur prys gekoop" (NLV).

1. Paulus besweer dus verskille in hoofstuk 3 deur God as die Eienaar van letterlik alles te bely. Daar is niks en niemand wat nie aan Hom behoort nie. Hoe laat dit jou anders dink oor jou medegelowiges, die wêreld, lewe en dood, die hede en die toekoms?

2. Paulus besweer seksuele losbandigheid in hoofstuk 6 met dieselfde argument. Jou liggaam behoort nie aan jouself nie, maar is ‘n tempel van die Heilige Gees. Hoe kan hierdie wete jou help om gehoorsaam te lewe ook in jou seksuele lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jy, liggaam, gees en siel, in lewe en in sterwe, aan God behoort. Laat die gedagte dat jy ‘n tempel van die Heilige Gees is jou inspireer om altyd in sy teenwoordigheid te lewe.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 1 Korintiërs 3 en 6 met die temas: Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder, en Vermy onreg en onsedelikheid.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More