Leesplan inligting

Eva se Dogters - Lewenslesse Van Vroue in die Bybel - Deel 2 Voorbeeld

Eve's Daughters - Life Lessons From Women In Scripture: Part 2

DAG 3 VAN 7

Abigajil


Hoe hanteer jy buierige, kwaai of dwase mense?


Mense wat my ken, weet dat ek geen geduld met lawwighede het nie. Indien moontlik, stap ek van lawwe mense af weg ... en bly weg.


Wat as jy nie kan wegstap nie? Wat as dit mense is saam met wie jy werk of bly?  Wat as dit familie is of iemand met wie ons daagliks in aanraking moet kom ... wat dan?


Daar is 'n verhaal in die Bybel van 'n vrou wat hierdie dwaasheid elke dag moes verduur. Sy was getroud met Nabal, 'n man wie se naam "dwaas" beteken het.


Haar naam is Abigajil en haar verhaal is in 1 Samuel 25 opgeskryf.


Dawid vlug voor Koning Saul uit en beland in die woestyn waar hy beskerming bied vir die herders van Nabal, die ryk, maar dwase skaapskeerder.  As terugbetaling vir sy dienste, vra Dawid kos vir hom en sy manskappe.


Onbeskof verwerp Nabal Dawid se versoek.  Dawid is woedend en honger en sweer dat hy elke man in Nabal se huishouding sal doodmaak.


Abigajil word ingelig oor Dawid se plan om haar hele familie dood te maak. Haastig maak sy kos bymekaar en ontmoet Dawid langs die pad waar sy om genade pleit.


In haar beroep op hom, verwys sy na Dawid se vernuf met die slingervel. Niks is soos kos en melding van vorige prestasies om 'n man se ego 'n hupstoot te gee nie! Sy verwys na sy toekoms en spoor hom aan om nie tyd te mors op onnodige bloedvergieting nie.


Dawid slaan ag op haar woorde en gee toe aan haar versoek.


Nie lank na die gebeure nie, sterf Nabal en Dawid vra Abigajil om met hom te trou. Sy is nie langer die vrou van Nabal die dwaas nie, maar is nou die vrou van Dawid, die toekomstige koning van Israel.


Die boodskap van hierdie verhaal is baie eenvoudig. Abigajil verstaan haar posisie van invloed. Sy het haar omstandighede verander in plaas daarvan dat haar omstandighede haar verander het.


Sy het koersvas gebly.  Sy het nie oor haar lot in die lewe gekla nie, want dit kon seker nie maklik gewees het om in 'n huwelik met Nabal te wees nie. Die Bybel beskryf Abigajil as 'n mooi en intelligente vrou en so het sy gebly, ongeag haar omstandighede en was ook in staat om baie lewens te red.


Voor wie jy ook al vandag te staan kom, bid ek dat jy jou posisie van invloed verstaan ... nie om deur ander afgebreek te word nie, maar eerder om ander op te bou.


Net soos Abigajil kan God JOU ook gebruik om verandering te bring en selfs die lewens te red van diegene om jou.



~ Binu


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Eve's Daughters - Life Lessons From Women In Scripture: Part 2

Ontdek hedendaagse lewenstoepassings deur die verhale van vroue in die Ou Testament. 

Ons bedank Whispers & Fringes vir die voorsiening van hierdie plan. Vir meer inligting besoek asseblief http://whispersandfringes.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid