Becoming Love: As ons by Volbring begin, waar eindig ons? (Deel 2)Voorbeeld

Dag agt: Die roeping van Matteus, die tollenaar
Het jy al ooit na iemand gekyk en gewonder: Is daar regtig hoop vir iemand soos hy?
Ons kyk na ’n pragtige verhaal in Matteus 9. Jesus roep Matteus om Hom te volg as een van sy dissipels, maar Matteus is ’n tollenaar — iemand wat gesien is as korrup en ’n verraaier van sy eie mense. In daardie tyd en kultuur is Matteus beskou as iemand wat “te ver heen is, ’n verraaier, ’n mens vir wie daar geen hoop was nie”.
Tog vermy Jesus hom nie. Hy stap reguit na hom toe en sê: “Volg My,” en later daardie selfde dag is Hy by Matteus se huis en geniet ’n maaltyd saam met ander tollenaars en “sondaars”.
Sien jy wat hier gebeur? Jesus sê nie: “Volg My,” terwyl Hy buite Matteus se gemors staan nie. Nee, Jesus stap in Matteus se gemors in en lei hom daaruit. Jesus word liefde vir Matteus deur sy huis binne te gaan. Hy loop Matteus se pad saam met hom, ’n pad van verwerping, isolasie en skaamte. Waar die samelewing ’n verraaier gesien het, het Jesus hoop gesien, wetende dat Matteus se skaamte in ’n lewe van feesviering sou verander. Jesus se uitnodiging was ’n weg uit sy gemors, in ’n nuwe lewe in — ’n lewe met ’n nuwe identiteit en vervulling.
Deur saam met ‘n tollenaar gesien te word, plaas Jesus sy reputasie op die spel. Maar sy liefde vir Matteus was groter as sy behoefte aan ’n goeie naam voor mense. Jesus het geweet die mees liefdevolle ding wat Hy vir Matteus kon doen, was om met Matteus te vereenselwig, want Jesus sou self die pyn verstaan om alleen te wees en deur mense verwerp te word.
Hierdie liefde verander Matteus vir ewig.
Wat beteken dit vir ons? Jesus nooi ons om self liefde te wees soos Hy daardie dag liefde vir Matteus was. Ons word geroep om verder te kyk as ons eie reputasie voor mense, en om vir iemand anders liefde te wees. Jesus nooi ons om mense lief te hê wat “sonder hoop” is en om by húlle tafel, húlle lewens en húlle gemeenskap ’n sitplek in te neem.
Wie in jou lewe het jy afgeskryf of misgekyk omdat hulle geskiedenis, status of reputasie sleg is? Hoe kan jy nader aan hulle beweeg, eerder as om hulle weg te stoot?
Miskien is dit so eenvoudig soos om hulle vir ete te nooi. Of selfs beter — om ja te sê op húlle uitnodiging en by húlle tafel te sit. Dink net wat God kan doen deur so ‘n liefde.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die Christelike lewe gaan nie net daaroor om die waarheid te ken nie, maar om waarheid in aksie te word — mense deur wie die liefde van God sigbaar word in ons wêreld. Hierdie reis begin wanneer ons God se liefde persoonlik ontvang en toelaat dat sy Gees ons harte vorm, ons denke vernuwe en ons lewens in lyn bring met sy doel. In hierdie leesplan gaan ons saam ontdek wat dit beteken om liefde te word. Let wel: hierdie leesplan is deel twee van 'n vierdelige leesplan.
More
Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.doxadeo.org
Verwante Leesplanne

Die Onbegryplikheid van God se Oneindigheid

Advent: Hy Spreek Sy Vrede Oor Sy Mense Uit

My Saligmaker Leef

Hoe Kosher is Jou Evangelisasie?

Leer Ken God op 'n Nuwe Manier

Becoming Love: As ons by Volbring begin, waar eindig ons? (Deel 3)

Geskenke van God

Ek volg Jesus

Gebede uit ’n Vrou se Hart
