Gebede uit ’n Vrou se HartVoorbeeld

Gebede uit ’n Vrou se Hart

DAG 4 VAN 5

Mislukking

“Die Here help almal wat geval het en dié wat swaarkry, tel Hy op.”
(Psalm 145:14, NLV)

Vader van genade, ek het klaaglik misluk. Neem asseblief hierdie jammerlike gemors wat ek aangevang het en maak dit reg. Keer alles om sodat ek sal leer en groei uit hierdie ervaring en sodat alles, op ’n manier, nie ’n verkwisting sal wees nie.

Vergewe my dat ek sake in my eie hande geneem, oorhaastig opgetree en U vooruit geloop het. Help my om nou teen die pas van u Gees te leef. En om U te vra vir onderskeidingsvermoë en leiding en herinner my dat U gesê het U sal my help (Jakobus 1:5). Laat my stadiger leef om goed te kan voorberei vir wat nou voorlê.

Dankie, Here van genade, dat my mislukkings nie my identiteit bepaal nie. Dankie vir die onwankelbare identiteit wat U aan my gegee het, ten spyte van my herhaaldelike foute, al moes ek van beter geweet het (2 Korintiërs 5:17). Ek wil ’n lewe leef wat gekenmerk word deur u vrug (Galasiërs 5:22-23), nie mislukking nie. Daarom erken ek al die maniere waarop ek my verhouding met U en ander mense, en selfs met myself, seergemaak het.

Ek vertrou op U om my te herstel. Help my om die verlede te vergeet en my oë te rig op wat voorlê, om te volhard totdat ek die wenstreep bereik en die hemelse prys ontvang wat U vir my in bewaring hou (Filippense 3:13-14). Ek is so dankbaar dat U nooit moed opgee met my nie, Here, selfs nie wanneer ek val en met myself wil moed opgee nie (Psalm 145:14). Amen.

RAAK PRAKTIES

Kyk vorentoe. Gee net een tree in die regte rigting.

Aangaande hierdie leesplan

Gebede uit ’n Vrou se Hart

Dalene Reyburn kom bid vir 5 dae saam met jou. Sy weet dat soveel vroue nie altyd die vertroue in hulleself en in God het wat hulle eintlik weet hulle kan hê nie. Hierdie innige gebede, vermeng met Skrifbeloftes, sal jou help om die regte woorde te vind in jou stiltetyd saam met die Een op wie jy elke dag kan vertrou, in wie jou dryfkrag, selfvertroue en kalmte lê.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us