God wat Wondere Doen: Niks is vir God Onmoontlik nieVoorbeeld

Dag 1
God wat wondere doen: vir Hom is niks onmoontlik nie
Ons neem ons sig dikwels as vanselfsprekend. Dis moeilik om ’n wêreld sonder lig voor te stel. In Johannes 9 lees ons van Jesus wat ’n man genees wat van geboorte af blind was: ’n wonderwerk van buitengewone kompleksiteit.
Selfs die eenvoudigste prosesse in die oog is ongelooflik ingewikkeld. Die retina doen bykans 10 biljoen berekeninge per sekonde voordat ’n beeld deur die optiese senuwee na die visuele korteks gaan. By ’n mens ontwikkel sig in die baarmoeder wanneer een miljoen senuwees uit die brein en een miljoen uit die oë mekaar vind – elkeen met ’n spesifieke "maatjie". Wanneer hulle verbind, ontstaan sig.
Maar by hierdie man het daardie proses nooit plaasgevind nie. Daar was geen sinaptiese konneksie tussen sy oë en brein nie. Jesus het dus nie net oë genees nie – Hy het as’t ware die man se brein “herbedraad” en ’n sinaptiese pad geskep wat nooit bestaan het nie.
Die man se blindheid was onomkeerbaar. Sy venster van geleentheid om ooit te kon sien was menslik gesproke toe. Maar dis juis wanneer Jesus sy grootste wonderwerke doen – wanneer iets onmoontlik lyk. Want wanneer Jesus deel van die prentjie is, is niks onmoontlik nie.
Dink aan Sara en Abraham. Hulle venster om ’n kind te hê was lankal toe, maar God het ’n bonatuurlike geleentheid geskep en sy belofte nagekom. Miskien voel jy ook dat jy voor ’n toe venster staan. Jy dink dis te laat, dit is verby, dit sal nooit weer regkom nie. God kan egter ’n nuwe sinaptiese pad maak, of ’n oue herstel. Hy is die God van tweede, derde – selfs duisendste kanse.
Dis nooit te laat nie. Nooit te moeilik, te groot of te klein nie. As Jesus deel van die prentjie is, moet jy nooit sê “nooit” nie.
Soos Hy vir die blinde man hoop gebring het in ’n wêreld van duisternis, bring Hy ook hoop vir jou en my. Hou daaraan vas.
Gebed:
Here, ek sien nie juis ‘n uitkoms nie. Alles voel so verlore. Ek voel so vasgekeer en sonder hoop. Dankie dat U my vandag weer kom herinner, dat wanneer ek U deel maak van die prentjie, bring U alles in "fokus" en is daar altyd hoop. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan herinner jou daaraan dat God steeds wondere doen. Hy is die Een wat ’n weg maak waar daar geen pad is nie – die God van tweede, derde en duisendste kanse. Wanneer alles verlore lyk, bly Hy getrou. Hy herstel, heropen, herskep. As jy moed verloor het, hoop nodig het, of glo dit is te laat – kom ontdek weer dat niks vir God onmoontlik is nie. Jy kan aan Hom vashou.
More
Ons wil graag NHKA bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.nhkwitfontein.co.za