God wat Wondere Doen: Niks is vir God Onmoontlik nieVoorbeeld

God wat Wondere Doen: Niks is vir God Onmoontlik nie

DAG 4 VAN 5

Dag 4

God wat barah – skep uit niks

‘n Groep wetenskaplikes het gesê: “Ons het God nie langer nodig nie. Ons kan selfs mense kloon en liggaamsdele maak.” God het geduldig geluister en toe gesê: “Goed, kom ons hou ‘n 'mensmaak'-kompetisie soos in die dae van Adam.” Die wetenskaplikes het ingestem en afgebuk om vir hulleself ‘n handvol stof op te tel. God het geglimlag en gesê: “A, nee, a, kry jou eie stof.”

Ons aanbid ‘n wonderlike God wat die aarde en alles daarop en daarin gemaak het. Die Hebreeuse woord vir “skep” is barah. Dit beteken om te skep uit niks. Net God kan barah. Net God kan skep uit niks!

Die hele skepping roep dit uit: Daar ís ’n God! God se vingerafdrukke is oral te sien.

Ons planeet aarde is in, wat hulle die “Gouelokkie-sone” noem. Die naam kom uit die verhaal Die Drie Beertjies. Gouelokkies ignoreer die twee bakkies wat te groot, te klein, te warm of te koud is en kies die een wat "net reg" is. Die feit dat die aarde in die Gouelokkie-sone is, beteken dat dit presies ver genoeg van die son is om nie te warm te wees nie, en ook nie te koud nie.

Aangrypend is dat as die aarde een graad nader aan die son was, sou ons verkool het. As ons een graad verder weg was sou ons gevries het. As die aarde se kors enigsins dikker was, sou dit te veel van ons suurstof absorbeer en sou ons nie kon asemhaal nie. As dit enigsins dunner was, sou die aarde onder ons voete skud en bewe en sou dit die lewe onmoontlik gemaak het.

Ek sou kon aanhou vertel van die uniekheid van hierdie planeet wat God spesiaal vir ons gemaak het.

Wanneer laas het jy jou so “verloor” in God se natuur dat jy Hom so naby aan jou kon voel en ervaar? Wanneer laas het jy gaan stilstaan, diep asem gehaal, afgebuk en aan ‘n roos geruik? Of gesit en gekyk watter voëltjies in jou tuin baljaar? Of gesmul aan ‘n heerlike rooi appel? Of jou vergaap aan ‘n sonsopkoms of –ondergang.

Gebed

Dankie Here, dat U my so bederf met alles wat mooi en goed is. Help my om dit ook vandag aan ander uit te wys en hulle ook so van U grootheid en liefde bewus te maak. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

God wat Wondere Doen: Niks is vir God Onmoontlik nie

Hierdie leesplan herinner jou daaraan dat God steeds wondere doen. Hy is die Een wat ’n weg maak waar daar geen pad is nie – die God van tweede, derde en duisendste kanse. Wanneer alles verlore lyk, bly Hy getrou. Hy herstel, heropen, herskep. As jy moed verloor het, hoop nodig het, of glo dit is te laat – kom ontdek weer dat niks vir God onmoontlik is nie. Jy kan aan Hom vashou.

More

Ons wil graag NHKA bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.nhkwitfontein.co.za