God wat Wondere Doen: Niks is vir God Onmoontlik nieVoorbeeld

God wat Wondere Doen: Niks is vir God Onmoontlik nie

DAG 5 VAN 5

Dag 5

God maak van ‘n verleentheid ‘n geleentheid

As daar nou een dag in ’n mens se lewe is wat jy graag wil hê alles moet perfek wees, dan is dit jou troudag. Vir die bruilofspaartjie in Kana was dit egter nie beskore nie. Die bruilofsfees was reeds goed op dreef toe alles skielik tot stilstand kom. Die rede? Die wyn was op! In die kulturele konteks van daardie dae was dit ’n absolute vernedering vir só iets om ’n bruidegom te tref.

Ek dink, as ons naby die hooftafel gesit het, sou ons dalk gehoor het hoe die bruid en bruidegom hulle eerste argument as getroude paartjie gehad het.

Gelukkig vir hulle was Jesus een van die gaste. Jesus red die bruidegom uit sy verleentheid.

Hy sê vir die kelners om die klipkanne vol water te maak. Waarom? 600 liter water is mos baie om aan te dra. Waarom moet hulle dit doen? Soms maak dit wat die Here vir ons sê ook nie sin nie. Die kelners was egter gehoorsaam. Hulle het nie net gegaan en die klipkanne vol gemaak nie – hulle het dit tot bo toe volgemaak.

Jesus verander dit toe in die beste verouderde wyn – nie net een botteltjie nie. As my wiskunde my nie in die steek laat nie, was dit omtrent 757 bottels wyn. Dit sou ’n hele wingerd se opbrengs verg om soveel wyn te produseer. Hulle sou daardie dag 'n ton nodig gehad het.

Binne sekondes doen Hy wat eintlik drie jaar sou neem. Jesus wys: Hy kan die eenvoudigste stof op aarde vat en dit verander in iets ongeloofliks. Iets smaakloos het Hy verander in die beste smaak denkbaar. Die punt wat Jesus wou maak, was: Kyk na my mag oor die kleinste, kleinste molekules. Ek kan enigiets in enigiets verander.

As God dit met water kon doen – wat kan Hy nie met jou lewe doen nie?

Hy kan vrees in geloof verander. Hy kan hartseer in vreugde verander. Hy kan depressie verander in lewensvreugde. God kan enigiets doen.

Plaas jou vertroue in dié wonderwerkende God vir wie niks onmoontlik is nie – en wees gereed om verras te word deur dit wat Hy in jou lewe kan doen.

Gebed

Here, ek sukkel dikwels om te glo dat U ook sulke wonders in my lewe kan doen. Tog, wil ek dit glo. Help my in my ongeloof. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

God wat Wondere Doen: Niks is vir God Onmoontlik nie

Hierdie leesplan herinner jou daaraan dat God steeds wondere doen. Hy is die Een wat ’n weg maak waar daar geen pad is nie – die God van tweede, derde en duisendste kanse. Wanneer alles verlore lyk, bly Hy getrou. Hy herstel, heropen, herskep. As jy moed verloor het, hoop nodig het, of glo dit is te laat – kom ontdek weer dat niks vir God onmoontlik is nie. Jy kan aan Hom vashou.

More

Ons wil graag NHKA bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.nhkwitfontein.co.za