God wat Wondere Doen: Niks is vir God Onmoontlik nieVoorbeeld

Dag 3
Van kruip tot jaag – die wonder van geloof
God se wonders is oral rondom ons, maar ons sal dit nie sien as ons nie leer om daarvoor op die uitkyk te wees nie. In Johannes 4:43–54 lees ons van Jesus se tweede wonderwerk: ’n regeringsamptenaar se seun lê op sterwe. Die verhaal is ’n pragtige illustrasie van geloof, want redding kom deur geloof.
Daar is ’n ou verhaal van ’n reisiger wat by ’n ysbedekte rivier aankom. Hy is bang, kruip stadig op sy knieë oor die ys, onseker oor hoe dik dit is. Halfpad hoor hy iets agter hom: ’n ander man jaag singend met ’n wa en vier perde oor dieselfde ys. Dis ’n beeld van geloof – die verskil tussen huiwering en vertroue.
Die regeringsamptenaar kom na Jesus toe, nie met volle geloof nie, maar met hoop. Hy glo nie in Jesus as Messias nie, maar as iemand wat sy seun kan genees. En tog, Jesus ontmoet hom waar hy is. Hy vra nie volmaakte geloof nie. Hy begin waar ons broos is, maar Hy los ons nie daar nie.
Toe die man by die huis kom en sien sy seun is gesond, verander sy geloof. Hy glo nie meer net in Jesus se vermoë om te genees nie. Hy glo in Jesus as Redder. Sy geloof het gegroei van kruip tot singend jaag. Só wil die Here ook hê dat ons ons volle gewig op Hom sal plaas – nie net ons hoop nie, maar ons hele lewe.
God se wonders is nie beperk tot genesing nie. Die grootste wonder is dat ons kan glo in ’n liefdevolle, genadige God wat sy liefde aan ’n kruis bewys het. Mag ons geloof elke dag groei: dieper, sterker, vryer. Mag ons leer om te jaag oor die ys, wetende dat die ys sal hou, want ons Rots staan vas.
En mag ons ook leer om die ander wonders raak te sien: ’n sonsopkoms, ’n roos, ’n kind se lag. Albert Einstein het gesê: “Jy kan leef asof niks ’n wonder is nie, of asof alles een is.” Ek kies om alles as ’n wonder te sien. En jy?
Gebed
Here, dankie vir al die baie wonders – groot en klein – oral om my. Maak asseblief my oë oop daarvoor en my hart ontvanklik. Ek wil erkenning aan elkeen van hulle gee en U daarvoor loof. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan herinner jou daaraan dat God steeds wondere doen. Hy is die Een wat ’n weg maak waar daar geen pad is nie – die God van tweede, derde en duisendste kanse. Wanneer alles verlore lyk, bly Hy getrou. Hy herstel, heropen, herskep. As jy moed verloor het, hoop nodig het, of glo dit is te laat – kom ontdek weer dat niks vir God onmoontlik is nie. Jy kan aan Hom vashou.
More
Ons wil graag NHKA bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.nhkwitfontein.co.za