SomtydsVoorbeeld

Somtyds

DAG 4 VAN 5

Dag 4: Somtyds is God se perspektief beter

Jesaja 55:8-9 (NLV): "My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie,” sê die Here. “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes hoër as julle gedagtes.

Ons sien die lewe deur ’n beperkte lens. Ons kyk na ons situasies vanuit die hier en nou, en dikwels voel dit asof dinge nie sin maak nie. Ons bid vir ’n spesifieke uitkoms, en wanneer dit nie gebeur soos ons gehoop het nie, raak ons moedeloos. Die waarheid is egter: God se perspektief is altyd beter as ons s’n.

Hierdie vers wys dat God verder kyk as ons menslike beperkinge. Hy sien die volle prentjie, die verlede, hede en toekoms, alles in een alomteenwoordige oomblik.

Dikwels verstaan ons eers later waarom sekere deure toegaan en ander oopgaan. ’n Afwysing kan God se beskerming wees. ’n Vertraagde antwoord kan sy tydsberekening wees. Wat vir ons soos ’n verlies lyk, kan in werklikheid ’n groter seën voorberei.

Wanneer ek dus twyfel en vrae het, kan ek kies om te rus in die wete dat God se perspektief beter is. Hy is ’n liefdevolle Vader wat net die beste vir sy kinders wil hê. Romeine 8:28 (NLV) verseker ons: “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Somtyds wil ek my eie pad volg, maar ek leer al hoe meer om te vertrou dat sy planne goed en vol hoop is. Sy perspektief gee my vrede in onsekerheid en lig in donker tye.

Gebed: Here, help my om my eie verstaan neer te lê en u perspektief te soek. Leer my om U volkome te vertrou.

Aangaande hierdie leesplan

Somtyds

Wat beteken die woord "somtyds"? Af en toe, nou en dan, of van tyd tot tyd. Tog klink en voel die woord "somtyds" net reg – dit is ’n kort, beskrywende woord wat breed geïnterpreteer kan word, veral omdat die woord "tyd" daarin voorkom. "Somtyds" is eintlik ’n samevatting van ’n begrip wat verband hou met tyd. Dis goed om doelbewus stil te staan en na te dink oor die hooftrekke van die lewe. Dit help ons om balans te vind, te besin oor ons prioriteite en die waarde van sekere oomblikke beter te verstaan.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com