SomtydsVoorbeeld

Somtyds

DAG 3 VAN 5

Dag 3: Somtyds voel ek verloën

Efesiërs 4:31-32 (NLV): Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos julle God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het."

Om verloën te voel is een van die seerste ervarings wat ’n mens kan deurmaak. Dit kom dikwels vanaf mense vir wie ons lief is of vertrou. Soms kan dit ’n vriend, ’n familielid of selfs mense in die kerk wees. Hierdie gevoel bring pyn, wantroue en ’n gebroke hart. Ek het al gehoor dat iemand sê "al wat oorbly is dat God my verloën ..." Dit is 'n baie gewaagde, tog diepe stelling; dalk het jy al só gevoel? Die Bybel verseker ons dat God selfs in hierdie diep wonde nader aan ons is as wat ons kan verstaan of voel.

Die teksvers herinner ons om weg te draai van woede en wrok, en eerder mekaar te vergewe soos Christus ons vergewe het. Dit beteken nie dat jou ervaring maklik of reg is nie, maar dit beteken dat ek en jy nie ons seer alleen hoef te dra nie – hoe wonderlik!

Selfs Jesus is verloën, daardie dag toe die haan drie maal gekraai het. As daar iemand is wat werklik verstaan hoe dit voel om verloën te word, is dit ons Here. Dit beteken ons kan ons pyn by Hom neerlê, want Hy ken die diepte daarvan. Jesus het hierdie diepe teleurstelling ervaar, maar Hy het dit oorwin met liefde, vergifnis en genade.

Ons elkeen het ’n keuse: om bitter en hard te word, of om te kies om ons harte en emosies aan God oor te gee.

Hy gebruik selfs hiérdie pyn om ons nader aan Hom te trek. Mense en situasies kan ons teleurstel, maar binne elke oomblik, tydens en daarna, is God heeltyd teenwoordig!

Gebed: Here Jesus, wanneer ek teleurgesteld voel, herinner my dat U my in u hande rus gee.

Aangaande hierdie leesplan

Somtyds

Wat beteken die woord "somtyds"? Af en toe, nou en dan, of van tyd tot tyd. Tog klink en voel die woord "somtyds" net reg – dit is ’n kort, beskrywende woord wat breed geïnterpreteer kan word, veral omdat die woord "tyd" daarin voorkom. "Somtyds" is eintlik ’n samevatting van ’n begrip wat verband hou met tyd. Dis goed om doelbewus stil te staan en na te dink oor die hooftrekke van die lewe. Dit help ons om balans te vind, te besin oor ons prioriteite en die waarde van sekere oomblikke beter te verstaan.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com