Een lewe: 'n Studie van integriteit in HebreërsVoorbeeld

Een lewe: 'n Studie van integriteit in Hebreërs

DAG 13 VAN 15

Dag 13: Ons lewens herbelyn – die Heilige Gees bemagtig

Wag, daar is meer

Niemand hou daarvan om te wag nie. Lang rye in winkels, waglyste vir toelating of toetsuitslae — dit is ’n ware toets van karakter en soms selfs van deursettingsvermoë!

Voor sy hemelvaart het Jesus vir sy dissipels gesê om te wag. Hy het uit die dood opgestaan en aan honderde mense verskyn om die vervulling van sy belofte te bevestig dat Hy nie in die graf sou bly nie. En nou gee Hy vir hulle ’n opdrag: wag. Daar is méér! Die derde persoon van die Drie-eenheid, God die Heilige Gees, sou uitgestort word om volgelinge van Jesus te bemagtig om sy werk voort te sit.

Dit is van kardinale belang. Let ook daarop dat Jesus dit duidelik gemaak het aan hierdie hegte groep volgelinge dat hulle ná sy vertrek iemand nodig sou hê: “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie” (Johannes 16:7 AFR53).

Versekerde sukses

In Galasiërs 5:16 verseker Paulus ons dat die lewensgehalte en getuieniskrag wat God vir sy kinders bedoel het, ’n bonatuurlike bron het — die persoon van die Heilige Gees.

“Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (AFR53).

Wil jy hierdie soort lewe hê, een waar die begeertes van die vlees al hoe minder word en die oorvloedige nuwe lewe in Christus elke gedeelte van jou bestaan beslaan? Vra dit nou in gebed.

Gebedsrefleksie

Heilige Gees, dankie dat die sleutel tot ’n vervulde, vrugbare lewe nie lê in harder probeer in my eie krag nie, maar in meer oorgee aan u werk in my lewe. Ek kies vandag om “deur die Gees te wandel” en sensitief te wees vir u leiding terwyl ek in Jesus se voetspore volg. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Een lewe: 'n Studie van integriteit in Hebreërs

In Hebreërs ontmoet ons die Lewende Een wat in die middel van God se verhouding met die mensdom staan. Hier ontdek ons God se liefde in sy belofte om ons te herstel en aan ons ’n oorwinnende lewe te gee. Hierdie 15-dae leesplan neem ons op ’n reis — van moegheid na rus, van vervreemding na ’n plek waar ons behoort, en van alleenwees na die uitnodiging om deel te wees van God se familie.

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.doxadeo.org