Een lewe: 'n Studie van integriteit in HebreërsVoorbeeld

Een lewe: 'n Studie van integriteit in Hebreërs

DAG 12 VAN 15

Dag 12: Die genade van God bemagtig ons – aktiwiteit vloei uit identiteit

Probeer maar misluk

Het jy al ooit iets probeer doen wat onmoontlik is? Jong kindertjies droom daarvan en speel selfs speletjies waar hulle vlieg of op water loop. Hulle kan ure in verbeeldingswêrelde deurbring waar enigiets moontlik is — maar helaas, dit bly net verbeelding.

Het jy egter al iets moeilik probeer en geslaag — iets wat voorbereiding, oefening en deursettingsvermoë vereis, soos om ’n marathon te voltooi, ’n uitdagende staproete aan te durf of ’n moeilike eksamen te slaag? Dit is moeilik, maar moontlik.

Ons geestelike groei, of heiligmaking, is baie dieselfde. Karakterverandering is moontlik, maar dit verg toewyding en baie geduld met jouself.

Genade wat bemagtig

Dit is egter nie slegs ’n menslike poging nie. Nee, dieselfde Goddelike geskenk wat ons op hierdie reis laat begin het — genade — is ook die krag wat ons in staat stel om te verander. Titus 2:12 verseker ons dat die genade van God ons leer om "nee" te sê vir dit wat nie ‘n lewe kenmerk wat aan God oorgegee is nie. Positief gestel beteken dit dat God se genade my bemagtig om "ja" te sê vir godsaligheid! Dit is moontlik! Deur die krag van die Heilige Gees wat in my werk, kan ek groei. In Galasiërs 5:22 beskryf Paulus die “vrug van die Gees” — ’n beeld van die resultaat wanneer ons die Gees toelaat om ons te transformeer.

Hoe kan ons egter seker wees dat ons sal verander? Jesus is ons voorbeeld! As volkome God én volkome mens het Hy op aarde op die Heilige Gees staatgemaak. Hy het nooit gesondig nie en dus moes daar geen sondige natuur in Hom verander word nie, maar Hy het gewys hoe ’n Geesvervulde lewe lyk.

Werk uit wat God gewerk het

In Filippense 2:12 (AFR53) word ons aangespoor: "... werk julle eie heil uit met vrees en bewing ...”, wat eenvoudig beteken dat ons die beste moet maak van ons wandel met God. Wanneer ons wedergebore word, is ons nie meer van God vervreem nie — ons word sy kinders. Hierdie nuwe posisie word nie deur werke bereik nie, maar deur geloof ontvang.

Ons hoogste doel nou is om al meer die karakter van Jesus te weerspieël — nie deur ons eie pogings nie, maar deur God toe te laat om sy werk in ons te doen.

Gebedsrefleksie

Vader, dankie vir u genade in Christus, wat my nie net nuwe lewe gegee het en my nader aan U gebring het nie, maar my ook daagliks bemagtig om te groei. Ek gee myself vandag weer in u hande. In die Naam van Jesus. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Een lewe: 'n Studie van integriteit in Hebreërs

In Hebreërs ontmoet ons die Lewende Een wat in die middel van God se verhouding met die mensdom staan. Hier ontdek ons God se liefde in sy belofte om ons te herstel en aan ons ’n oorwinnende lewe te gee. Hierdie 15-dae leesplan neem ons op ’n reis — van moegheid na rus, van vervreemding na ’n plek waar ons behoort, en van alleenwees na die uitnodiging om deel te wees van God se familie.

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.doxadeo.org