Bly In Jesus - Dra Vrugte Wat HouVoorbeeld

Die God Wat In Ons Werk
Lees: Filippense 2:12-13
Soap: Filippense 2:12-13
My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Oordenking
Vriendin, God is altyd aan die werk in jou lewe selfs al is jy nie daarvan bewus nie. Hoewel ons geroep word om doelbewus ons geloof na te streef, is dit God self wat in ons werk. Hy is die een wat ons die begeerte sowel as die krag gee om volgens sy wil te lewe.
Om te bly beteken om aan Jesus, die Wingerdstok, verbind te bly en God toe te laat om jou te verander. Om te bly gaan nie oor volmaaktheid of onmiddellike verandering nie. Dit gaan daaroor om daagliks oor te gee aan God se werk in jou, en te vertrou dat Hy getrou is om te voltooi wat Hy begin het. As ons na aan Jesus bly, begin ons agterkom dat ons begeertes verander, ons harte sagter word en ons lewens die vrug van sy Gees dra. Elke oomblik wat ons in sy Woord deurbring, elke gebed wat gefluister word, en elke daad van oorgawe is deel van daardie ongelooflike proses.
Hoewel die Bybel sê ons moet voortgaan om met vrees en bewing te werk aan ons verlossing, stel die Woord dit ook duidelik dat die enigste rede waarom ons daartoe in staat is, is omdat God dit moontlik maak. Hy weet dat ons sonder Hom heeltemal hulpeloos is, en hoegenaamd geen vrugte kan voortbring nie. Wat Hy van ons vra, is om ons eie swakheid te erken en Hom dan in geloof te vra om alles wat ons nodig het te voorsien om sonde te beveg en ‘n oorwinnende Christelike lewe te lei.
God is beide die bron en die onderhouer van ons geloof. As ons in Hom bly, werk Hy deur ons en bring vrugte voort wat sal hou, Hom verheerlik en vir ander tot seën is.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie dat U in my werk, my hart vorm en my die krag gee om volgens u wil te lewe. Help my om elke dag in U te bly en vrugte te dra wat U eer. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Het jy al ooit gewonder wat dit beteken om "in Jesus te bly"? Om so nou aan Hom verbind te leef dat sy liefde, krag en wysheid na elke aspek van jou lewe toe oorvloei? In hierdie leesplan gaan ons vir ses weke lank deur sorgvuldig uitgesoekte Skrifgedeeltes, dagstukkies en praktiese insigte leer hoe ‘n lewe lyk wat gewortel is in Christus en wat bekragtig en verander word deur Hom.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans