Bly In Jesus - Dra Vrugte Wat HouVoorbeeld

Bly In Jesus - Dra Vrugte Wat Hou

DAG 6 VAN 43

Laat Ons Lig Voor Ander Skyn

Lees: Matteus 5:16

Soap: Matteus 5:16

Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.

Oordenking

Die lig wat ons deur ons lewens moet laat skyn, is nie sodat ander ons beter kan sien nie, maar om Christus beter te sien. Wanneer ons in Jesus bly, begin ons lewens sy lig weerkaats en in ‘n wêreld skyn wat desperaat nodig het om Hom te sien. Hierdie lig is ‘n bewys van God se liefde in ons wat ons lewens verander en uitstraal om diegene om ons te seën.

Namate ons leer om in Jesus te bly, gebeur iets wonderliks: ons harte begin oorloop van dankbaarheid. Ons begin God se goedheid in elke oomblik raaksien. Lofprysing word deel van ons daaglikse ritme. Dit is nie net ‘n vinnige “dankie” hier en daar nie, maar ‘n diep en konstante bewustheid van, en dankbaarheid vir sy teenwoordigheid.

Ons lewens word ‘n getuienis van God se getrouheid, ‘n lig wat ander na sy liefde heenwys. Dit word gewys deur goedhartigheid, deur ander te vergewe wat ons ‘n onreg aangedoen het, deur woorde van vertroosting in iemand se pyn, en deur nederigheid bo trots te kies. Wanneer ons in Christus bly, kom ons agter dat sy liefde in ons net vanself oorgaan tot goeie dade.

Liewe vriendin, jou lig mag soms klein lyk, maar Jesus verseker ons dat God elke daad van getrouheid en gehoorsaamheid gebruik om Hom te verheerlik. Die uitwerking van jou lewe wat verbind is aan Christus is veel groter as wat jy kan sien of selfs dink. Wanneer ons kies om soos ‘n lig vir Hom te leef, is ons deel van iets wat ewig is en ander heenwys na die bron van alle lig ─ Jesus self, die Lig vir die Wêreld.

Gebed

Dierbare Jesus, dankie dat U my help om elke dag in U te bly en u liefde en goedheid deur my laat skyn. Mag my lewe ander trek om U te ken en te loof. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Bly In Jesus - Dra Vrugte Wat Hou

Het jy al ooit gewonder wat dit beteken om "in Jesus te bly"? Om so nou aan Hom verbind te leef dat sy liefde, krag en wysheid na elke aspek van jou lewe toe oorvloei? In hierdie leesplan gaan ons vir ses weke lank deur sorgvuldig uitgesoekte Skrifgedeeltes, dagstukkies en praktiese insigte leer hoe ‘n lewe lyk wat gewortel is in Christus en wat bekragtig en verander word deur Hom.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans