Hoog tydVoorbeeld

Dag 1: Hoog tyd vir wysheid
Prediker 1:13 (NLV): “Ek het my daarop toegespits om alles wat onder die son gedoen word, te verstaan en met wysheid te deurdink ...”
Dit is Maart 2025. Ek probeer steeds die inhoud van 2024 absorbeer. Tyd is vlietend en genadeloos.
Sommige mense strompel reeds voort in die geel noodlyn van hul lewenspad.
Miskien het ouderdom iets daarmee te doen. 'n Mens se gedagtes kan draai met menige vrae en ervarings van die afgelope dekade; die goeie en slegte, die hoog- en laagtepunte soos ons deur die lewe reis.
Hoe ondersoek 'n mens die tyd waarin ons lewe? Het koning Salomo die antwoord gevind? Ons word omring deur statistieke en verlammende verwagtinge. Kommentare en statusse op sosiale media verdrink jou siel. Vakansies, etes, nuwe huise en klerekaste word vertoon terwyl iemand êrens vermoor, begrawe, geskei of getraumatiseer word.
Dit kan voel asof niemand (wil) luister nie. Ons moet aanpas by skommelinge in ons kultuur en aandagafleibaarheid wat hoogty vier. Daar word ook vertel en geskryf dat Gen Z anders is; ek en jy moet leer om húlle te verstaan asof “hulle” nie mense is nie. Ons word daagliks uitgedaag om die uniekheid van ons omstandighede en uitdagings met genade te omarm.
Salomo het 12 hoofstukke geskryf oor die goeie en slegte, moets en moenies en die hoog- en laagtepunte van die lewe.
Tog, bly daar slegs een ding oor, ‘n slotsom van dié wysste man ooit: “Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie ...” (Prediker 12:13). Dit is nou tyd om hierdie woorde jou eie te maak.
Só kyk ons op met hoop tot die dag wat Jesus op die wolke verskyn!
Gebed: Vader, U hou tyd in die holte van u hand. Help my deur u Gees om my tyd deur u Woord te rig.
Wanneer jy weer na ‘n horlosie se wysers kyk, herinner jouself aan hoe kosbaar tyd is, veral as jy daarop ingestel is om God te eerbiedig. Dĺt dra ewigheidswaarde.
Aangaande hierdie leesplan

Tyd het ‘n waarde wat gekoppel is aan die ewigheid waarvan ons nie 'n begrip het nie. Die horlosie-arms wat ons lewens aanwys, kan sagte drukkies uitdeel asook harde realiteite uitwys. Hoe verstaan ons die goeie en die slegte tye vanuit ‘n menslike perspektief? Wat het veroorsaak dat selfs koning Salomo in die boek Prediker, só diep gedelf het in ‘n soeke na betekenis? In die wye spektrum wat die horlosie-arms aanwys kan ons ook introspeksie doen en in die gees hoër vlieg!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com