Hoog tydVoorbeeld

Hoog tyd

DAG 3 VAN 5

Dag 3: Hoog tyd vooruit!

Filippense 4: 13-14 (NLV): “Nee broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.”

‘n Tydjie gelede het ek ‘n baie intense en diepe teleurstelling beleef wat oor maande, selfs langer gestrek het. Dit het soos ‘n swaar gewig in my hart gelê. My identiteit en menswees was blou gekneus.

Elke mens het ‘n verhaal wat agter hul gesigte skuil. Ons dra maskers om die waarheid van ons verhale te verskuil. Dit is egter nie volhoubaar nie, jy gaan êrens swik. Paulus se verhaal van verskeie letterlike kneusings, het my bemoedig om juis dit te doen wat sy woorde in die teksvers met sekerheid vertel.

Ek het die waarheid van Paulus se woorde in my gees hoor ego. Dit was hoog tyd om te vergeet, om te “jaag” na die wenpaal wat voor my lê! Ek het die teksvers oor en oor gelees, selfs hardop en dadelik het ‘n vasberadenheid my aangegryp en vars asem in my gees geblaas.

Wat agter jou lê, pas in die grootte van ‘n truspieëltjie en vóór jou is ‘n groot wye venster van hoop en vordering.

Sóveel keer onthou ek weer: ek het nie tot hier gekom om nét tot hier te kom nie.

Jy ook nie!

Gebed: Here, Paulus se woorde is presies wat ek nodig het. Ek vra dat U my wenpaal sal laat helder skyn sodat ek my oë slegs daarop kan vestig.

Notas herinner ons om iets te onthou. Skryf Paulus se woorde neer en plaas dit waar jy dit elke dag kan sien.

Aangaande hierdie leesplan

Hoog tyd

Tyd het ‘n waarde wat gekoppel is aan die ewigheid waarvan ons nie 'n begrip het nie. Die horlosie-arms wat ons lewens aanwys, kan sagte drukkies uitdeel asook harde realiteite uitwys. Hoe verstaan ons die goeie en die slegte tye vanuit ‘n menslike perspektief? Wat het veroorsaak dat selfs koning Salomo in die boek Prediker, só diep gedelf het in ‘n soeke na betekenis? In die wye spektrum wat die horlosie-arms aanwys kan ons ook introspeksie doen en in die gees hoër vlieg!

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com