Hoog tydVoorbeeld

Dag 4: Hoog tyd vir Vertroue
Psalm 118:8-9 (NLV): “Dit is beter om by die Here te skuil as om staat te maak op mense. Dit is beter om by die Here te skuil as om op vername mense te vertrou."
Hierdie twee teksverse is amper identies. Die tweede vers verwys na "vername mense", dus diegene wat ons as “verhewe” bo ander kan beskou. Tog weet ons dat elke mens, gewoon of verhewe, eendag die dood in die oë gaan staar. Dan is almal op dieselfde vlak.
Hoekom sou die teksvers juis so geskryf wees? Daar is iets om hierin te leer omdat ons soms diegene wat (volgens ons), meer het om te bied of belangrike persone in die samelewing is, kan sien as mense op wie ons in ons huidige omstandighede kan vertrou. Tog is “gewone” mense ook nie diegene op wie ons kan reken nie. Natuurlik is daar uitsonderings, maar die punt is: waar lê ons vertroue regtig?
Vertrou jy op God, of maak jy staat op wat ander vir jou sê? Goeie raad en omgee-vriende is beslis ‘n gawe, máár waar belê jy jou vertroue diep binne-in jou hart en gees? Wat openbaar jy aan mense en wat lê jy aan Jesus se voete?
Jy sal weet wat die beste opsie is, daar waar net jý voor die gehoor van Een moet staan!
Gebed: Here Jesus, ek is 'n mens van vlees en bloed, maar soms hoop en vertrou ek op ander mense se doen en late, selfs hul beloftes. Ek wil eerder by U skuil omdat U die toekoms is.
Wees eerlik oor waar jou hoop en vertroue belê is. Lees die Woord van God. Dit is hoog tyd om te delf en jou siel te verkwik met sy oneindige beloftes!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Tyd het ‘n waarde wat gekoppel is aan die ewigheid waarvan ons nie 'n begrip het nie. Die horlosie-arms wat ons lewens aanwys, kan sagte drukkies uitdeel asook harde realiteite uitwys. Hoe verstaan ons die goeie en die slegte tye vanuit ‘n menslike perspektief? Wat het veroorsaak dat selfs koning Salomo in die boek Prediker, só diep gedelf het in ‘n soeke na betekenis? In die wye spektrum wat die horlosie-arms aanwys kan ons ook introspeksie doen en in die gees hoër vlieg!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com