Hoog tydVoorbeeld

Hoog tyd

DAG 2 VAN 5

Dag 2: Hoog tyd om te vlieg

Jesaja 40:29-31 (NLV): “Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hul hoop op die Here stel, sal nuwe krag kry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nooit vermoeid word nie.”

Ons teksvers is baie bemoedigend. Wat interessant is, is dat van jongmense melding gemaak word. Die meeste van ons voel ook afgemat en struikel van tyd tot tyd. Tog is daar waarheid in. Ons hoor en lees dikwels dat die jonger geslag van ons dag, baie alleen voel. Hul lewens bestaan uit aanvaarding, hul fokus meestal daarop om van gebeure op sosiale media op datum te bly – en die invloede daarvan is legio. Tog is hulle en baie van ons wat ouer is, in dieselfde net vasgevang.

Daarmee sê ek nie dat die teksvers slegs na jongmense en die media verwys nie. Dit versterk ons almal om te weet dat God ons krag is, om hoër te vlieg en om nie van al die geraas in ons lewensruimte moeg te word nie. Wat wel ‘n waarheid is en wat almal moet besef, is dat dit hoog tyd is om hoër te kyk, dink en op te tree; om op te let wát rondom ons gebeur en met wié dit gebeur, jonk en oud.

Ek voel self soms moeg, sonder asem en krag, maar dit is juis dán die regte tyd om tot God te nader en sy versterking te vra. Ons kan nie hoër vlieg as ons verstrengel raak in allerhande struikelblokke nie. Ons mag en kan nie aanvaar dat “dit is maar die lewe" nie. Die krag van God is veels te groot vir ons om te besef. Hy gee vir ons die vermoëns wanneer ons tot Hom nader!

Dis hoog tyd dat jonk en oud hul vlerke doelbewus oopsprei om saam met arende te vlieg! Moenie tevrede wees om soos ‘n hoender die pitjies op die grond op te pik nie.

Gebed: Vader, my krag kom nét van U. Ek wil ‘n arend wees en hoog vlieg met u Gees onder my vlerke.

Doen jouself ‘n guns en gaan soek op die internet wat die eienskappe van ‘n arend is. Dit is merkwaardig!

Aangaande hierdie leesplan

Hoog tyd

Tyd het ‘n waarde wat gekoppel is aan die ewigheid waarvan ons nie 'n begrip het nie. Die horlosie-arms wat ons lewens aanwys, kan sagte drukkies uitdeel asook harde realiteite uitwys. Hoe verstaan ons die goeie en die slegte tye vanuit ‘n menslike perspektief? Wat het veroorsaak dat selfs koning Salomo in die boek Prediker, só diep gedelf het in ‘n soeke na betekenis? In die wye spektrum wat die horlosie-arms aanwys kan ons ook introspeksie doen en in die gees hoër vlieg!

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com