'n Paasfees vol liefdeVoorbeeld

'n Paasfees vol liefde

DAG 5 VAN 7

God-verlate en God-gevind

“My God, my God, hoekom het U my verlaat?” Jesus haal hierdie woorde uit Psalm 22 aan terwyl Hy daardie Vrydag aan die kruis hang. Nogtans ken Hy daar in sy eie pyn en vernedering ook die laaste woorde van hierdie klaagpsalm. Jesus weet dat God sy mense nooit prysgee nie. Daarom hou Jesus se eie Godverlatenheid aan die kruis nie vir ewig aan nie. In Johannes 19:30 (NLV) roep Jesus juis in sy sterwensoomblikke uit: “Dit is nou afgehandel!” Hy hang Godverlate aan die kruis, maar Hy sterf nie sonder God nie.

“In u hande gee Ek my gees oor.” So klink die laaste woorde volgens Lukas 23:46 op Jesus se lippe wanneer Hy sterf. Die kruis hou Jesus nie permanent gestrand in die land van Godverlatenheid nie. Sy kruiswoorde is juis sy oorwinningskreet. Jesus sterf dus nie God-verlate nie, maar God-gevind! In die dood gee Hy Homself oor aan sy Vader. Die dood het nooit die laaste sê nie. So vertel Vrydag se leë kruis en Opstandingsondag se leë graf steeds vir ons.

Dit is ook ons hoop! Ook wanneer ons ver van God af voel, weet ons dat die Vader van ons Here Jesus nooit sy kinders prysgee nie. Jesus het sulke verlatenheid namens ons deurgegaan sodat ons dit nooit hoef te ervaar nie. Christus se sterwe is ons lewe!

Aangaande hierdie leesplan

'n Paasfees vol liefde

God is genadig. Daarom gryp Hy van die begin af in mense se lewens in. Sonder dat ons dit verdien, soek Hy ons op om ons te oorrompel met sy liefde en goedheid. Dit is presies waaroor die kruis van Jesus handel. Dit vertel in een woord alles oor sy liefde vir ons ten spyte van ons sondige keuses.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za