Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 24 VAN 28

Die oordeel oor Babilon bring bevryding vir die kerk – Openbaring 18 – 19:10

Openbaring 18 gee sewe uitvloeisels weer van die oordeelsaankondiging van Openbaring 17, ’n uitvloeisel van God se woorde oor Babilon (Rome) – die verpersoonliking van die politieke en ekonomiese mag wat met godsdienstige begronding mense regoor die wêreld in hulle gemeenskapslewe beïnvloed het – wat nou hulle volledige doel bereik.

In die agtergrond lê die profetiese uitsprake in die profete, oor die val van Babilon (Jes. 13-14; 21; Jer. 50-51) en ander koninkryke (Tirus in Eseg. 26-28).

Dit word afgesluit met die sewende uitvloeisel van hierdie oordeelsaankondiging, die hallelujas van Openbaring 19 waarna die bruilof van die Lam sal aanbreek, juis met dié kinders van God wat deur die politiese en ekonomiese sisteme van die wêreld verguis is.

1. ‘n Helderskynende engel met volmag kondig Babilon se val aan – Openbaring 18:1-3

’n Sterk en helderskynende engel kondig die val van Babilon aan met volmag van die troon, omdat Babilon ’n demoniese skuilplek vir alles wat onrein is, geword het, en omdat sy die nasies, konings en handelaars van die wêreld tot afgodery en onsedelikheid mislei het – die oersondes wat regdeur die Skrif afgewys word. Babilon se invloed was destruktief oor ’n wye gebied: die gemeenskapslewe, die politieke lewe sowel as die ekonomiese lewe.

2. ‘n Waarskuwing aan gelowiges om Babilon te vermy – Openbaring 18:4-8

’n Ander stem, waarskynlik dié van God self of van die Lam, waarsku gelowiges om niks met Babilon te doene te hê nie, sodat hulle nie ly onder die plae van die oordeel wat oor haar uitgegiet word nie.

God bewys deur hierdie oordeel oor Babilon dat Hy regverdig is. Hy laat haar dubbel en dwars vir haar onreg vergeld, want Hy onthou al haar onregverdige dade. Trouens, hy vergeld haar op dubbele wyse vir haar sondes. Die beker wat sy vir ander gemeng het, word vir haar gemeng met twee keer soveel drank. Hierdie keer met die drank van God se oordeel.

Let op die implisiete vergelyking met die toring van Babel (Gen. 11,) waar die nasies probeer het om met hulle bouwerk die hemel te bereik. Hier is dit die sonde van die godsdienstig-polities-ekonomiese teenstand teen God wat opgehoop is tot aan die hemel!

Ten spyte van die feit dat sy die naderende oordeel ontken: “smart sal ek beslis nie sien nie,” is haar val seker en onafwendbaar, omdat dit van God af kom. Sy sal meteens deur die volle gloed van God se toorn getref word. Met vuur sal sy verbrand word, omdat die Here kragtig is.

3. Die konings van die aarde treur oor Babilon – Openbaring 18:9-10

Die oordeel oor die politieke, ekonomiese, en godsdienstige mag van Babilon verstom die konings van die aarde. Hulle het onsedelik met haar omgegaan, haar uitspattighede geniet, maar treur en rou nou oor haar afgryslike pyn en vernietiging.

4. Die handelaars van die aarde treur oor Babilon – Openbaring 18:11-17

Ook die handelaars van die aarde treur oor Babilon, maar – soos ’n mens sou verwag – veral oor die effek op die uitgebreide voordeel wat hulle self uit die handel met haar weelde en luukshede kon trek. ’n Wye reeks van 28 kosbaarhede word genoem, waaronder ook die slawe- en mensehandel gelys word: “liggame en siele van mense!” Hulle kyk van ‘n afstand af uit vrees vir haar foltering. Dat soveel rykdom só vinnig uitgewis kon word!

’n Soortgelyke lys kom ook in Esegiël 27 voor.

5. Die skeepskapteins van die see treur oor Babilon – Openbaring 18:18-20

Die skeepskapteins, matrose en passasiers wat aan hierdie luukse ekonomie deelgeneem en daaruit voordeel getrek het, treur ook oor haar lot wat so vinnig en onverwags van voordeel na oordeel verander het.

Die hele verspreidingsnetwerk – elke stuurman, matroos en ander personeel van die skeepsindustrie – rou oor haar, maar interessant genoeg, gee tog ook erkenning aan die feit dat dit God is wat hiermee sy oordeel oor haar voltrek het. Die waarheid kan nie vir altyd selfs deur die grootste leuenaar onderdruk word nie.

Hulle moedig dié wat in God se teenwoordigheid is en lewe: “Wees bly oor haar, hemel, en die heiliges, en die apostels en die profete.” Die heiliges kan met die kerk van alle eeue verbind word, die apostels met die kerk van die Nuwe Testament en die profete met die kerk van die Ou Testament.

6. ‘n Sterk engel voltooi die oordeel oor Babilon – Openbaring 18:21-24

Een van die “sterk engele” gooi laastens ’n groot maalklip in die see – een van die klippe wat deur donkies in die rondte getrek is om meel te maal (Du Rand) – as simbool dat die groot stad Babilon neergegooi sal word en sal verdwyn soos ’n klip in die see.

Daarmee is alle lewe uit haar gepers – geen musiekspelers, geen werkers, geen produkte, geen beduidenis van lewe, geen vreugde van menslike gemeenskap sal ooit weer in haar gehoor of gesien word nie.

Die rede vir haar oordeel word uitgespel. Sy was die setel van die magtige sakelui van die aarde, maar sy het die profete (God se verteenwoordigers) en heiliges (God se mense) uitgewis en sommer op die koop toe ’n hele spul ander doodgewone mense op die aarde. Daarvoor word sy gestraf.

7. Vier hallelujas oor Babilon se val kondig die bruilof van die Lam aan – Openbaring 19:1-10

Dit dek die tafel vir die sewende uitvloeisel van hierdie oordeelsaankondiging, die vier hallelujas van Openbaring 19, waarna die bruilof van die Lam sal aanbreek, juis met dié kinders van God wat deur die politiese en ekonomiese sisteme van die wêreld verguis is.

Openbaring 19:1-10 kondig die bruilofsfees van die Lam van God aan waarmee Hy sy volle koningskap opneem en sy vrou, die kerk, haar gereedmaak om met Hom verenig te word.

Die jubellied van die skare in die hemel, die 24 ouderlinge, en die 4 lewende wesens word aangevul met ’n opdrag aan almal wat vir Hom ontsag het, die geringes en die magtiges (die kleineres en die grotes, soos die oorspronklike Grieks dit stel,) om God te loof. Die opdrag word met oorgawe in ’n vierde groot halleluja uitgevoer waarin God se aanvaarding van die koningskap en die komende bruilof van die Lam geloof word.

Let op die groot hoeveelheid klank: die geluid van ‘n groot skare, die geluid van baie water en die geluid van swaar donderslae. Dit is asof ‘n enorme waterval binne ‘n enorme stadion inval terwyl die skare juig en ‘n groot Hoëveldse storm dreun.

Dié lied herinner sterk aan die soortgelyke loflied in die hemelse erediens waarvan ons in hoofstukke 4 en 5 lees. ’n Groot skare in die hemel besing God se regverdige verbreking van die mag van die “groot prostituut”, Babilon, in al sy historiese verskynings. Met twee grootse hallelujas beklemtoon hulle die verlossende oordeel van God, waarna daar ook nog ’n halleluja van die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens weerklink – die verteenwoordigers van God in die skepping, sowel as die skepping se verteenwoordiging by God – terwyl hulle God aanbid.

Die “vrou”, die kerk, word toegelaat om haar gereed te maak vir die bruilof met wit klere as simbool van die regverdige dade van die heiliges. ‘n Groot kontras met die prostituut Babilon wat onreg en onsedelikheid soos ‘n magneet aangetrek en uitgedeel het.

Interessant, die Griekse woord “vrou” (gunē) word eintlik gebruik – in plaas van “bruid” (numphē­ – ‘n vrou wat binnekort gaan trou, of so pas getroud is) soos in ander visioene (vgl. Openb. 21:2, 9; 22:7) – om waarskynlik die geldigheid en status van die verbintenis uit te druk.

In die volgende sin verskuif die metafoor boonop na die bruilofsgaste wat uitgenooi word na die bruilofsfees, maar wat na alle waarskynlikheid op dieselfde geloofsgemeenskap dui wat ook die bruid van die Lam is. Gelowiges is dus beide die bruid asook die genooide gaste. Die hemelse Jerusalem sal ook nog die bruid van Christus genoem word (Openb. 21:2, 9).

Dit wys jou net weer hoe belangrik dit is om die breë prentjie van die simboliek in gedagte te hou en nie te verdwaal in die presiese detail van die beskrywings en metafore nie. Die punt is dat die geloofsgemeenskap van die kerk met die Here Jesus sy toppunt bereik en die twee metafore hier in Openbaring 19 dui die intimiteit en die eer van hierdie gemeenskap aan.

Die stem van die troon af bevestig dan dat hierdie woorde van God eg en betroubaar is.

Die effek op Johannes is so groot dat hy neerval om die stem te aanbid, waarskynlik met die idee dat dit God self is, maar die stem sê dat hy eintlik net die aankondiger is en daarom nie aanbid mag word nie, omdat net God werd is om aanbid te word en dit ook die geval is met Jesus (Openb. 1:2; 12:17).

Die getuienis waarna hier verwys word, is waarskynlik die evangelie wat Jesus verkondig het, wat bevestig is in die regverdige dade van die heiliges, soos vroeër in die hoofstuk vermeld. Hierdie getuienis word gedra deur die gees van die profesie, waarskynlik ‘n verwysing na die Heilige Gees se bemagtigende werk.

Boodskap en betekenis

Die boodskap van Openbaring 18 oor Babilon brei aan die een kant uit oor die oordeel van die sewende goue bak waarmee God die aarde suiwer van haar invloed.

Aan die ander kant maak Babilon se vernietiging plek vir die bruilofsfees van die Lam (Openb. 19:6 vv.), die vestiging van die koninkryk van die Lam op aarde deur die vernietiging van die antichris en valse profeet (Openb. 19:11 vv.), die opstanding uit die dood (Openb. 20:1 vv.), die finale oorwinning oor die draak, Satan (Openb. 20:7), die laaste oordeel (Openb. 20:11), die aanbreek van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde (Openb .21:1 vv.) en God wat in die nuwe Jerusalem sy intrek saam met die gelowiges neem (Openb. 21:9 vv.).

Dag 23Dag 25

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com