Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die koms van die nuwe hemel en aarde en die nuwe Jerusalem – Openbaring 21
Die oorwinning oor die Satan en die oordeel oor die mensdom word opgevolg in Openbaring 21 met:
- die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde – vers 1,
- die vestiging van die Nuwe Jerusalem uit die hemel op die aarde as die woonplek van God. Só word alles nuut gemaak – vers 2-8 en
- die beskrywing van die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem – die bruid, die vrou van die Lam – wat in wese eintlik ook die beskrywing van God se heerlikheid is – verse 9 tot 27.
Hoofstuk 22 sal dié prentjie afrond met ’n beskrywing van die water van die lewe wat uit die troon van God en die Lam uit die stad vloei – verse 1tot 6. Die boek word daarna afgesluit met ’n versekering van die spoedige en besliste wederkomsbelofte van die Here Jesus as aanmoediging vir die gelowiges om vas te hou aan die woorde van God.
Die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde – Openbaring 21:1
Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde word in ’n enkele vers beskrywe. Dit vervang die ou hemel en aarde wat so pas met die laaste oordeel tot niet gegaan het. Die enigste detail waarop uitgebrei word, is die feit dat daar nie ’n see sal wees nie. Dit dui op die feit dat daar geen boosheid meer sal wees nie, aangesien die see as die woonplek van die Bose beskou is.
Daarmee sluit Openbaring presies aan by die belofte wat Jesaja al lank tevore van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gebring het, waarin daar ook ’n nuwe bedeling vir Jerusalem, die Godsvolk, sal wees (Jes. 65:17-18).
Die vestiging van die Nuwe Jerusalem – Openbaring 21:2-8
Die Nuwe Jerusalem (vgl. ook Openb. 3:12 waar insluiting in hierdie stad as beloning aan Filadelfia belowe word) daal uit die hemel neer (sommige manuskripte sê: “uit God se hemel”) as gereedgemaakte bruid vir die Lam van God, waarmee ’n idilliese prentjie van “hemel op aarde” geskets word. Die versierde vrou staan in skerp kontras met die bose Babilon wat deur God vernietig is.
In ’n sekere sin word hemel en aarde een in die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk (Du Rand). Die plek ís ook die mense! Die gelowiges ís ook die stad van die Here God. Die droom van Jesaja 2 dat Jerusalem die ontmoetingsplek met God vir die nasies sal wees, word só uiteindelik in sy volheid bewaarheid!
Dit verklaar ook hoekom die nasies steeds deel van die beskrywing van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, in die volgende hoofstuk sal wees. Vergelyk ook Jesaja 65:17-18 en Sagaria 8:20-23; 14:8 waar dié beloftes die eerste keer uitgespreek is in die Ou Testament en waarvan Openbaring die vervulling beskryf.
Hierdie is die vervulling van die Ou Testamentiese ideaal van God waar Hy ’n God vir sy volk is en hulle wat vir Hom ’n volk is. Dit was die ideaal van die Ou Verbond (Gen. 17:7; Eks. 29:45; Lev. 26:11-12). Dit het die ideaal van die Nuwe Verbond gebly (Jer. 31:33; Eseg. 37:27-28 [wat ook ‘n effek op die nasies sal hê]).
Dit is ook nie net die volke – let op die meervoud! – wat nou God se woonplek (tent) word nie, maar hulle ervaar ’n omvattende herstel wat God aankondig: elke traan word afgedroog, die dood word vernietig, daar sal nie meer gerou of gehuil word nie, want daar sal geen pyn meer wees nie. Die eerste dinge het verbygegaan, die nuwe het gekom (soos Paulus ook in 1 Kor. 5:17 skryf).
God maak alles nuut. Om die waarheid te sê, in ’n sekere sin is dit eintlik in beginsel afgehandel, want die belofte kom van die Een wat die Alfa en die Omega is, die Begin en die Einde. Elkeen wat hierna smag, sê God, sal versadig word. Hulle sal drink uit die fontein van lewegewende water om vir ewig te lewe. En dié lewensdrank sal verniet wees (vgl. Jes. 55:1). Eden is herstel.
Dít is die deel van elkeen wat aan God bly vashou. Die res van die mensdom se deel is die tweede dood, die vuurpoel, waar die bose driemanskap saam met die dood en die doderyk reeds is.
Agt karaktereienskappe van dié mense wat dit nie sal maak nie word uitgespel waarin duidelike ooreenkomste nie net met ander soortgelyke lyste in die Nuwe Testament is nie, maar ook ooreenkomste met die Tien Gebooie: lafaards (dié wat bang geword het), onbetroubares (óf ongelowiges – dié wat ontrou geword het), losbandiges (seksuele perverte), moordenaars, onsedelikes (pornois), towenaars (pharmakois – mense wat towerspreuke en dwelms gebruik), afgodsdienaars en al die leuenaars.
Hulle lot is vir ewig verweef met die vuurpoel, die tweede dood. Dit is die plek waar God nie is nie. Alleen maar die boosheid in al sy afgryslike glorie is daar teenwoordig.
Die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem – Openbaring 21:9-27
Een van die sewe engele met die sewe bakke wys dan vir Johannes die bruid, die vrou van die Lam.
In ’n heerlike beskrywing word die skoonheid van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, beskrywe, wat in wese ook ’n beskrywing van God se heerlikheid is. Haar glans is dié van kristalhelder jaspis soos in Openbaring 4. Sy is veilig omdat daar ’n hoë muur om haar gebou is, met twaalf engele wat die volk by die twaalf poorte oppas. Die stad is gegrondves op twaalf fondamente, die twaalf apostels “van die Lam” (vgl. Paulus se opmerkings hieroor in 1 Kor. 3:10).
Dié getal twaalf (maal twee) staan vir die volle getal van die Godsvolk – beide die twaalf stamme van die ou bedeling en die twaalf apostels van die nuwe bedeling.
Weereens word ’n meetstok uitgehaal om die stad te meet – soos in Openbaring 11 waar Johannes die tempel van God moes meet – om te simboliseer dat hulle almal aan God behoort.
Die stad vorm ’n enorme kubus waarvan hoogte, breedte en lengte gelyk is. Die 12 000 km (soos die NAV dit vertaal) is eintlik in die grondteks 12 000 stadion. Dit beteken dit is ’n 2 220 km kubus (‘n stadion is 185 m lank), hoewel die presiese letterlike mate natuurlik nie so belangrik is as die feit dat dit groots is nie. Netso is die muur eintlik 65 m hoog – die grondteks sê dat dit 144 el hoog is en ’n el is 45 cm.
Die verdere boumateriaal is ook besonders: goud, 12 soorte edelstene en pêrels (een van die kosbaarste juwele van die antieke tyd en in dié geval enorm groot!). Dit alles dien egter net om die sentrale heerlikheid van God self te belig. Die Here God woon in die stad, d.w.s. in en tussen sy mense en verlig nie net vir hulle nie, maar ook vir almal rondom hulle. Die son en maan is oorbodig, want God is daar. Binne-in die stad kan egter net die gelowiges, wie se name in die lewensboek van die Lam geskryf is, kom.
Die heerlikheid van God
Die heerlikheid van God is 'n ontsagwekkende kaleidoskoop van kleure. Johannes sê in Openbaring dat Hy die voorkoms het van 'n kristalhelder jaspis – wit. Op 'n ander plek sê Johannes dat God ook die voorkoms van karneool het – rooi. Trouens, rondom sy troon is 'n reënboog of stralekrans (iris) wat soos smarag (σμαράγδινος) skyn – ook groen (Openb. 4:3).
Daarmee word natuurlik 'n verband gelê met die Ou Testamentiese teken van die reënboog (qěšěṯ) met sy betekenis as 'n teken van die verbond van God met die aarde en almal daarop, om nie weer die hele aarde met water te vernietig nie (Gen. 9:12-17).
Esegiël beskryf sy troon as gebou van saffiere – blou – en sy voorkoms soos blinkende brandende metaal: "Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ’n wolk na die reën." (Eseg. 1:22-28). Soos Moses dit ook in Eksodus doen: "onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self" (Eks. 24:9).
Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem
Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem eggo God se heerlikheid, want die belangrikste boustof van die mure is ook jaspis. Die stad is verder van suiwer goud gebou. Die glans daarvan is soos suiwer glas of kristal.
Die fondamente van die stad is versier met edelgesteentes, twaalf van die sogenaamde anisotropiese edelgesteentes wat nie net hulle eie kleur het nie, maar onder suiwer lig al die kleure van die reënboog aanneem. Interessant is dat daar nie isotropiese edelgesteentes op die fondamente is nie, moontlik omdat wanneer suiwer lig daarop val, raak hulle swart of grys. Dit is edelgesteentes soos diamante of robyne.
Dit is nie iets wat Johannes in die eerste eeu van ons jaartelling sou geweet het nie, maar iets wat sin maak uit ons kennis daarvan vandag. Dit is waarskynlik wel 'n getuienis van God se kennis wat allesomvattend is.
Hier is die 12 edelgesteentes waarmee die fondamente versier is, die fondamente waarop die name van die twaalf apostels van die Lam geskrywe staan:
1. JASPIS (ἴασπις) - groen – die hele stad Jerusalem is van jaspis gebou (Openb. 21:10-11), maar dit is ook die eerste edelgesteente op die fondamente (Openb. 21:19);
2. SAFFIER (σάπφιρος) – blou (Openb. 21:19);
3. AGAAT (χαλκηδών) – melkerig grys (Openb. 21:19);
4. SMARAG (σμάραγδος) – groen (Openb. 21:19);
5. SARDONIKS (σαρδόνυξ) – wisselende kleure (Openb. 21:20);
6. KARNEOOL (σάρδιον – Sardius) – rooi (Openb. 21:20);
7. CHRISOLIET (χρυσόλιθος) – geelgoud (Openb. 21:20);
8. BERIL (βήρυλλος) – blou of groen (Openb. 21:20);
9. TOPAAS (τοπάζιον) – geel (Openb. 21:20);
10. CHRISOPRAAS (χρυσόπρασος) – groen (Openb. 21:20);
11. HIASINT (ὑάκινθος) – blou (Openb. 21:20);
12. AMETIS (ἀμέθυστος) – pers of violet (Openb. 21:20).
En dan is daar nog die poorte van die stad wat elkeen uit 'n kosbare massiewe pêrel gebou is en die strate van goud wat so deurskynend soos glas is.
Boodskap en betekenis
Dit is duidelik uit Openbaring 21 dat God se uiteindelike plan is om hemel en aarde te verenig en ’n volmaakte woonplek vir sy volk te skep waar daar geen boosheid en geen lyding en trane meer is nie. Die Nuwe Jerusalem simboliseer die volk van God in volmaakte gemeenskap met Hom. Hulle is nou die stad waar God woon. Hierdie visioen is die vervulling van al die Ou Testamentiese verbonde, die herstel van die eerste paradysgemeenskap van Eden en die finale oorwinning oor sonde en dood wat reeds in Genesis 3 belowe is. Christus is hiervan die middelpunt, en deur die genesing en oorvloed wat Hy bring, word alle dinge nuut. Die sondeval is finaal omgekeer en gelowiges regeer vir ewig saam met God.
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com