Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 25 VAN 28

Jesus Christus oorwin die antichris en vals profeet – Openbaring 19:11-21

Openbaring eindig met ‘n visioen van Satan wat deur die Woord van God, die Here Jesus, oorwin word (19:11-21), die duisend jaar van vrede wat aanbreek (Openb 20:1-10), die laaste oordeel wat plaasvind (20:11-15), die nuwe hemel en aarde (21:1-8) en die nuwe Jerusalem wat deur God onthul word (21:9-22:5).

Die Woord van God op sy wit perd oordeel regverdig – Openbaring 19:11–21

Jesus Christus word in die volgende gedeelte voorgestel – met vier beskrywings wat herinner aan Openbaring 1 – in sy rol as beide die Regter wat regverdig oordeel en die Generaal wat met die swaard van sy mond met die leërs van die hemel die oorlog teen die Bose aanvoer en twee van die bose driemanskap (die antichris en die valse profeet) en hulle magte uitwis (die draak se uitwissing kom in die volgende hoofstuk).

Sy karakter word beskryf as een wat getrou is – die Getroue – en ook een wat die waarheid lief het – die Betroubare.

Hy het ‘n ontsagwekkende voorkoms met oë soos ‘n vuurvlam en op sy kop nie net sewe of tien krone soos die draak of die dier uit die see nie (Openb. 12:3; 13:1), maar baie krone.

Jesus het ‘n vyfde geskrewe Naam wat niemand ken nie, behalwe Hyself (vgl. Openb. 2:17; 3:12), d.w.s. die diepte daarvan kan ons nie peil nie. Maar, die sesde baie bekende Naam is dat Hy die Woord van God genoem word, soos alreeds in die Johannes evangelie aangetoon is (Joh. 1). Daarmee kan ons identifiseer.

Dat sy klere deurweek is met bloed verbind Hom aan die vorige beeld van die wingerdoes (Openb. 14:14-20; vgl Jes 63:1-6) as die Regter en Generaal wat sy oordeel uitoefen.

Jesus lei die leërs van die hemel in ’n groot oorlog op wit perde om sy heerskappy te vestig. Die word deur sy vurige oordeel tot stand gebring. Hy is ‘n Herder, sy sewende beskrywing, maar met ‘n ysterstaf (vgl. Ps. 2:9; Openb. 12:5).

‘n Agste besondere Naam is op sy kleed geskrywe wat Hom as die Koning van die konings en die Here van die heersers aandui.

’n Baie besondere engel – let op dat hy by of op die son staan – kondig die vernietiging van die hele goddelose mensdom aan met die grusame beeld van ’n oproep aan die (aas)voëls van die hemel om aan die gesneuweldes in die oorlog te kom peusel. Die feesmaal word die “groot feesmaal van God” genoem. ‘n Grusame kontras met die bruilofsmaaltyd van die Lam.

Dit lei tot ‘n grootskaalse oorlog tussen die twee diere – die antichris uit die see en die valse profeet uit die aarde – en die Een wat op die perd sit met hulle magte, die Christus.

Die magte van die antichris en die valse profeet word in die oorlog oorwin (vgl. Armageddon wat met die sesde bak se oordele gebeur: Openb. 16:16) en hulle “is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi.” Die res van die mensdom het ook omgekom. Dit berei die weg voor vir die finale oorwinning oor die draak, die Satan.

Boodskap en betekenis

Jesus Christus word as die regverdige regter en oorwinnaar geopenbaar wat in glorie terugkeer om die bose magte te oorwin en sy heerskappy te vestig. Sy titels en beskrywings beklemtoon sy Goddelike gesag, betroubaarheid en regverdigheid, terwyl sy bloedbevlekte klere sy rol as regter en generaal simboliseer. Die leërs van die hemel volg Hom in ‘n beslissende stryd teen die antichris en die valse profeet, wat uiteindelik in die vuurpoel gewerp word. Die toneel kontrasteer die vreugde van die bruilofsmaal van die Lam met die grusame “groot feesmaal van God,” waar aasvoëls die gevalle goddeloses eet. Hierdie oorwinning berei die weg voor vir die finale oordeel oor Satan, in die volgende hoofstuk.

Dag 24Dag 26

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com