Kaalvoet SielsgedagtesVoorbeeld

Kaalvoet Sielsgedagtes

DAG 7 VAN 7

Sy tasbare by-jou-wees

Ons lewens is propvol “dinge” gelaai. Dinge wat ons gedagtes en leefwêreld van hoek tot kant so vol maak dat ons soms sukkel om God tussen alles deur te sien. En dan mis ons sy sagte by-ons-wees heeltemal …

Die Israeliete van destyds was nie anders nie. Daarom het God vir hulle tasbare simbole gegee wat kon herinner aan sy altyd-teenwoordigheid. Een daarvan was die ark met die twee kliptafels (God se gebooie), ’n houer met manna (God se sorg) en Aäron se staf (die Heilige se leiding).

Wat help jou om God se teenwoordigheid by jou te ervaar tussen al die baie dinge wat jou gedagtes en lewe in beslag neem? ’n Kruis? ’n Wit veer? Sy Woord? Vir my is dit ’n kers. Sodra ek ’n kers aansteek en op die klein vlammetjie fokus, gebeur daar iets. Ek word rustig – ongeag ’n rowwe en besige dag. Ek vind ’n stuk vrede – ten spyte van my bekommernis en al die verantwoordelikhede … ek ervaar God se lig wat saggies oor my skyn en weet dan: Hy ís hier by my.

Onthou vandag: God se lig skyn oor jou: Altyd. Hy gee sy leiding en liefde vir jou: Voortdurend. Hy sorg: Op vreemde en verrassende maniere. En Hy het jou reeds vooruitgegaan. Daarom is jy tot in ewigheid veilig. Gered! Wat ’n stuk vreugde.

Help my om U elke dag in my lewe regtig te ervaar, heilige Heer.

Hierdie oordenkings is geneem uit KAALVOET SIELSGEDAGTES deur Milanie Vosloo © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Kaalvoet Sielsgedagtes

Die tydgety verander nie noodwendig ons omstandighede en situasie nie. Maar ons kan onthou: God is by ons ín elke gety van ons lewe: in die vredevolle in-beheer-voel-tye én in die stormwaterdae wanneer ons bang voel. Milanie Vosloo wil jou kom aanmoedig om te onthou dat God ons nog nie een keer alleen op ons lewenstrand gelos het nie.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za