Kaalvoet SielsgedagtesVoorbeeld

“Kan daai oom lag?”
Ek onthou ’n ou oom in ons kerk wat altyd as die “groot Christen” beskou is. Op ’n dag vra ek my pa: “Pappa, kan daai oom lag?” My pa was eers geskok en toe, na ’n lang ruk, het hy eerlik geantwoord: “Ek weet nie, my kind, maar ek hoop hy lag as hy eendag in die hemel kom.” Die oom het my laat voel dat ek ’n konserwatiewe suurpruimdogtertjie moet wees om in God se goeie boekies te kom. Ek was nie lus daarvoor nie. Gelukkig het ek later soveel ander opregte glo-mense ontmoet wat die lewe gelééf het en voluit kon lag. By hulle het ek geleer dat ’n mens opreg lief vir die Here kan wees, maar soms ook kan twyfel; dat ’n mens met tye wel sal val, maar altyd weer kan opstaan en met vreugde in God se arms loop.
Geloof is nie om te vertel dat jy ’n Christen is nie, dis ook nie om soos een te probeer lyk deur met ’n frons van ernstigheid rond te loop nie. Geloof is om saam met jou Vader die lewe voluit te leef. Te lag en te speel. Te eet en te drink. Dis om die lewe met al sy fasette te geniet!
Gaan leef vandag voluit vanuit jou geloof in die wete dat God juis lief is vir mense wat die lewe wat Hy gegee het, met ope arms omarm.
Dankie, Here, dat ek die lewe saam met U kan geniét!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die tydgety verander nie noodwendig ons omstandighede en situasie nie. Maar ons kan onthou: God is by ons ín elke gety van ons lewe: in die vredevolle in-beheer-voel-tye én in die stormwaterdae wanneer ons bang voel. Milanie Vosloo wil jou kom aanmoedig om te onthou dat God ons nog nie een keer alleen op ons lewenstrand gelos het nie.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za