Mislukking Is Nie Die Einde NieVoorbeeld

Hoe om die oorwinning oor geestelike mislukking te behaal (1)
Hoe oorkom ons geestelike mislukking? Kyk na die volgende riglyne:
1. Versuim om God te vertrou: Mislukking kom dikwels wanneer ons op ons eie krag staatmaak in plaas daarvan om vanuit God se krag te lewe. Soek God en wat Hy vir jou beplan. "Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie" (Spreuke 3:5).
2. Vrees vir mislukking: Vrees vir mislukking of teenstand kan ons verlam en sukses verhinder. Die feit dat God almagtig is en oor al die krag, wysheid en kennis beskik, moet in elke faset van ons lewens ingevleg wees. "Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing" (2 Timoteus 1:7). "Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op" (Spreuke 24:16).
3. Versuim om te volhard: Baie mense gee te gou op en loop dan baie oorwinnings en seëninge mis. Dit geld veral vir volharding in gebed. "Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel" (Galasiërs 6:9). "Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word" (Lukas 18:1; Lukas 11:5-10).
4. Mislukking deur ongehoorsaamheid: Sonde en ongehoorsaamheid aan God se gebooie lei dikwels tot mislukking. Wanneer jy misluk of geen antwoorde op jou gebede kry nie, is dit gewoonlik die beste om die Here te vra of daar een of ander vorm van ongehoorsaamheid of sonde in jou hart is. Eers nadat jy dit gedoen het, kan jy bid oor die ander aspekte wat verband hou met die mislukking wat jy ervaar. "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid" (1 Johannes 1:9).
5. Mislukking in verhoudings: Onvergewensgesindheid (onwilligheid om te vergewe of om vergifnis te vra), trots, wys in jou eie oë, neerkyk op ander mense, 'n kritiese gees te hê, jaloesie, afguns en ook selfbejammering – kan lei tot gebroke verhoudings. Verneder jouself. Nederigheid breek gewoonlik hindernisse tussen mense af wat nie op enige ander manier verbreek kan word nie. Gaan versoen jou met ander mense, want in Jesus is jy met die Vader versoen. "Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het" (Efesiërs 4:32).
Aangaande hierdie leesplan

Almal van ons kan getuig van mislukkings in ons lewens. Soms is dit iets kleins en die gevolge is nie noemenswaardig nie, maar ander kere het ons mislukkings geweldige gevolge. Mislukkings kom altyd saam met baie emosies. Dikwels is hierdie emosies in onwaarhede geanker. As Christene moet ons leer om saam met mislukking te lewe, dit te gebruik om geestelik te groei en in oorwinning daaroor te lewe.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: disciple4.com