Mislukking Is Nie Die Einde NieVoorbeeld

Wat sien God as Mislukking?
Om te misluk, is om tekort te skiet, om af te breek, om te val, om nie jou doel te bereik nie, om nie suksesvol te wees nie. Geen wonder dat ons almal so bang is om te misluk nie!
Wil jy volgens die wêreld se standaarde suksesvol wees of volgens God s'n? Dit is belangrik om te besluit volgens watter definisies van sukses en mislukking jy wil leef.
Wat is mislukking in God se oë? Mislukking in die oë van God is ongehoorsaamheid aan Hom. Dit is om sy gebooie te verwaarloos. Dit is die verwerping van sy Seun, Jesus Christus, en die verlossing wat Jesus vir ons voorsien het. Dit is om die waarheid te verwerp soos ons dit in Jesus, die Seun van God vind.
Hebreërs 3:12-13: "Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ’n 'vandag' is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie."
2 Kronieke 12:1-2: "Rehabeam was nouliks goed gevestig in sy koningskap en seker van sy mag, of hy en die hele Israel saam met hom het die woord van die Here verontagsaam. Hulle was ontrou aan die Here, en daarom het Hy vir koning Sisak van Egipte teen Jerusalem laat optrek."
Mislukking in God se oë is om nie te leef soos Hy jou geskep het om te leef nie, om Hom nie as die Skepper van alles te erken nie en Hom te verwerp. God het vir jou die gawe van lewe gegee en Hy het jou geskep om 'n verhouding met Hom te hê. Jou grootste mislukking sal wees om nie die pad wat God vir jou wys te loop nie, dit te minag en die een te verwerp wat vir jou lewe gegee het.
Wanneer jy misluk, is daar een ding wat jy kan weet. Ongeag ons swakhede en mislukkings sê die Here: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is" (2 Korinthiërs 12:9).
Ons moet egter nooit ons mislukkings as 'n verskoning gebruik om te sondig nie. As ons sondig, moet ons daardie sondes bely. Wanneer ons dit doen, sal ons vergewe word.
Aangaande hierdie leesplan

Almal van ons kan getuig van mislukkings in ons lewens. Soms is dit iets kleins en die gevolge is nie noemenswaardig nie, maar ander kere het ons mislukkings geweldige gevolge. Mislukkings kom altyd saam met baie emosies. Dikwels is hierdie emosies in onwaarhede geanker. As Christene moet ons leer om saam met mislukking te lewe, dit te gebruik om geestelik te groei en in oorwinning daaroor te lewe.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: disciple4.com