Ons God Wat Ons Opsoek - Om Ons Na Hom Terug Te Lei. 'n Studie van Vyf Klein ProfeteVoorbeeld

God se Heilige Karakter
Lees: Joël 2:1-17
SOAP: Joël 2:12-13
“Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur!
Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe:
Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep.”
Oordenking
Baie mense maak die fout om te dink dat die God van die Ou Testament ‘n God van toorn en oordeel is, terwyl Hy in die Nuwe Testament uitsluitlik deur liefde gekenmerk word. Joël 2 wys egter vir ons dat God tegelyk kwaad vir sonde maar liefdevol teenoor die sondaar is. Dit is belangrik om God se karakter te ken en te verstaan omdat dit grootliks ons leefwyse beïnvloed.
Joël skryf van die Dag van die Here wat kom. Dit sou ‘n “stikdonker dag” (Joël 2:2) wees wanneer ‘n toekomstige leër die stad Jerusalem sou kom vernietig. Dan, in vers 12, sien ons een van die belangrikste woorde—die woordjie “maar”. Hoewel hierdie tyd van oordeel en verwoesting belowe is om aan te breek, sê God dat dit voorkom kan word.
Al wat God ooit van sy mense begeer, is hul harte. God sê deur Joël vir die volk Israel om met hulle hele hart terug te kom na Hom toe (Joël 2:12) sodat Hy sy straf mag “herroep” (Joël 2:13). Waarom sou God dit doen? God is “genadig en barmhartig, lankmoedig en vol troue liefde” (Joël 2:13; Eksodus 34:6). Dit is omrede van God se karakter dat Hy vergifnis deur berou bied.
God is ‘n heilige God, wat beteken dat Hy nie sonde ongestraf kan laat bly nie. Maar God is ook liefdevol en bied deur Jesus ‘n uitweg vir sy volk om vergewe en verlos te word. Albei karaktereienskappe is waar van God en nodig. Al God se oordele is goed en reg. Hy het nie nodig gehad om vir ons ‘n uitweg te maak om verlos te word nie, maar Hy het dit uit sy groot liefde gedoen. Wanneer ons die karakter van God verstaan, maak dit dat ons met berou en lofprysing daarop wil reageer.
Net soos die Dag van die Here vir die volk Israel op pad was, gaan die Dag van die Here eendag vir alle mense aanbreek. Hoewel dit ‘n oordeelsdag gaan wees, hoef ons, wat ons geloof in Jesus geplaas het, nie bang te wees nie. Inteendeel, ons weet dat ons as kinders van God veilig is.
Terwyl ons wag op daardie dag wat kom, word daar van ons verwag om getroue lewens te lei. Ons moet gereeld ons skuld bely en gehoorsaam lewe. As ons harte God kan sien soos Hy werklik is, sal dit ons leefwyse verander.
Gebed
God, dankie dat U ‘n regverdige, deernisvolle en barmhartige God is. Dankie dat u karakter nooit verander nie. Mag ek u karakter werklik sien en in antwoord daarop met lofprysing leef. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

God se Woord bied ‘n boodskap van hoop. Selfs te midde van sonde en swaarkry, hou God nooit op om ons op te soek en na Hom terug te lei nie. In hierdie Bybelstudie gaan ons in die boeke van die klein profete delf om God te sien wat ons opsoek en wat beide getrou en regverdig is. Hierdie dagstukkies sal jou help leer hoe ‘n lewe van gehoorsaamheid lyk.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans