JOËL 2:1-17

JOËL 2:1-17 AFR83

Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby: dié stikdonker dag, die dag van donker wolke waarop die groot sterk nasie oor die berge uitsprei soos die lig van die dagbreek uitsprei. Só 'n sterk nasie was daar nog nooit en sal daar nooit weer wees nie, selfs nie in die verste toekoms nie. Die leër se voorhoede is 'n vuur wat verteer, sy agterhoede 'n vlam wat brand. Voor die koms van die sprinkaanswerm is die veld soos die tuin van Eden; as hy verby is, is dit 'n onbewoonbare woestyn. Hy laat niks oorbly nie. Sy manskappe lyk soos perde, hulle galop soos ryperde. Op die bergtoppe dreun hulle soos strydwaens, knetter hulle soos die vuur van 'n grasbrand wanneer dit strooi verbrand, rumoer hulle soos 'n groot leër wat klaarmaak om te veg. Voor hulle bewe die nasies, almal word wit van angs. Hulle storm vorentoe soos dapper soldate, hulle klim oor die stadsmure. Elkeen gaan reg vorentoe, hulle verander nie van rigting nie. Die een stamp nie teen die ander nie; elkeen bly op sy pad. Hoe hulle ook sneuwel voor die verdediging, hulle raak nie van koers af nie. Hulle oorval die stad, hulle hardloop oor die mure, hulle storm die huise binne, soos diewe klim hulle deur die vensters. Die aarde skrik vir hulle, die hemel bewe; die son en die maan word donker, die sterre verloor hulle glans. Die Here laat sy stem weerklink voor sy leërmag uit. Sy leër is ontsaglik groot, dié wat die Here se bevel uitvoer, is sterk. Die dag van die Here is 'n groot dag, 'n verskriklike dag; wie is daarteen bestand? Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God! Blaas die ramshoring in Sion, bepaal 'n dag om te vas, roep die gemeente bymekaar. Roep die volk op, reinig die gemeente, laat die leiers bymekaarkom, bring die kinders bymekaar, selfs dié wat nog drink. Die bruidegom moet uit sy kamer uitkom, die bruid uit haar wittebroodskamer. Die priesters wat in die diens van die Here staan, moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil, hulle moet sê: “Betoon medelye met u volk, Here, moenie die volk wat aan U behoort, tot 'n bespotting maak, sodat die nasies met hulle sal spot nie. Waarom moet daar onder die volke gevra word: Waar is Israel se God?”

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOËL 2:1-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid