Lentesade: 'n Vrou se 40-dag ReisVoorbeeld

BEREI DIE GROND VOOR
Lees Lukas 8:19-21
Luister weer na wat Jesus sê. Jesus benadruk dieselfde punt. Iets wat herhaal word, is belangrik. Vandag, in stilte en teerheid, maar tog vreesloos, vra jouself af: "Hoe reageer ek teenoor die Woord van God? Stem ek net bloot daarmee saam of pas ek dit ook in gehoorsaamheid toe?" Onlangs het ek gesien hoe goeie ou vriende tot die besef gekom het dat hulle die Woord van God hoor en sy woord glo, maar dit nie regtig uitleef nie. Hulle het gedink dat hulle Jesus volg. Almal wat hulle ken het ook so gedink, maar met dieper selfondersoek het hulle ontdek dat dit nie regtig die geval is nie. Dit het hulle in diepe berou gelaat oor al die jare en geleenthede wat hulle gemis het en vir die impak wat hulle ongehoorsaamheid op hulle kinders en familie gehad het. Hulle het besef dat hulle Jesus probeer volg het sonder om hulle "eie ek" neer te lê. Dit is vir niemand moontlik om Jesus te volg sonder om dit met volle oorgawe te doen nie. “... My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel" (Lukas 8:21). Daar is 'n onafskeidbare band tussen liefde en gehoorsaamheid. Jou aandag mag dalk afgetrek word, jy mag aan die slaap gesus word, of deur jou omstandighede sukkel om op die Woord van God te fokus en dit nie ernstig opneem nie. Jy mag jouself dalk met verskonings paai.
Jesus se woorde is egter baie duidelik: Lukas 14:26: “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe." Lukas 14:33: “So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.” So pynlik as wat dit mag wees, vra jouself hierdie vraag af: "Stem ek net bloot met die Woord van God saam of is ek ook daaraan gehoorsaam?" Dit is beter om nou te huil as later.
Vra die Here vir sy hulp en sy genade oor jou as sondaar. Bely jou onverskilligheid, jou vrese en jou ongeloof. Vra Hom vir sy genade om alles oor te gee. Wat gaan dit beteken? Verlies aan beheer? Moontlike mislukking? Verlies van jouself? Erkenning dat dinge nie is soos dit wil voorkom nie? "O Here, help my om te besef dat U nie iets van my wil wegvat nie, maar dat U my 'n lewe in oorvloed wil gee. U wil Uself aan my gee!"
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die Bybel maak dikwels van seisoene gebruik om te illustreer hoe God in ons werk. In hierdie 40-dag leesplan vir vroue, van Thistlebend Ministries, word 'n tuin gebruik om groei in Christus uit te beeld. Jy sal elke dag "Saad van Waarheid" (Skrifgedeelte) ontvang asook riglyne oor hoe om die "Saad te Plant" (ter harte te neem) en "Gee Die Saad Water" (toepassing daarvan). Raak opgewonde! Die Here wil 'n pragtige tuin van sy karakter in jou hart kom plant –wat oorloop van sy volheid. Dit is ideaal vir besige moeders, enkelvroue en studente.
More