Leesplan inligting

Oop Vir Die Hier En NouVoorbeeld

Oop Vir Die Hier En Nou

DAG 1 VAN 7

Die wonder van die hier en nou

Lees Psalm 23, Efesiërs 1:3 en Markus 1:17-18.

Oordenking

Ons almal het ’n behoefte om in die hier en nou teenwoordig te wees.

Ek het ’n vriend wat altyd doodstil sit en luister wanneer ek met hom praat. Ek kom agter dat hy nie net met sy verstand luister nie, maar ook met sy hart. Hy wil my goed verstaan. Hy stel belang in my. As hy by my is, is hy regtig bý my. Dis ’n lekker gevoel.

Ek gaan haal soms vir my twee blokkies sjokolade uit ons spenskas. Wanneer ek dit klaar geëet het, besef ek soms ek kon dit net sowel nie geëet het nie, want die oomblik toe ek die sjokolade in my mond gesit het, het my aandag na ’n ander saak beweeg. Ek het nie die sjokolade bewustelik geniet nie.

Richard Rohr skryf: “As jy nie in die hier en nou kan wees nie, sal niks nuuts ooit met jou gebeur nie. Jy sal nie jou ervaringe beleef nie; dit sal glad nie diep in jou siel neerslag vind nie. Wees bereid om in die hier en nou te leef — om teenwoordig te wees. Bewustheid spruit daaruit om volkome aan die oomblik oorgegee te wees."

Wanneer jy besef watter waarde daarin is om oop te wees vir die hier en nou, besef jy hoe vol en heilig dit is. Sulke kragtige ervarings van die hier en nou hoef nie dikwels te gebeur nie, maar dit sal jammer wees as jy dit nooit toelaat om te gebeur nie. Selfs al is dit 'n ligter of meer gewone tipe ervaring, is dit steeds kosbaar.

Hierdie groeiplan wil jou help om telkens na die hier en nou terug te keer, om daarin ’n tuiste te vind en ’n plek waar jy kan asem skep om reg te wees vir die aksie van die lewe. Ons sal van verskillende kante af daarna kyk. Kom ons gaan saam op reis, weg van alles wat ons uit die hede wegtrek en kom ons leef dieper in die hier en nou.

Vandag se oefening "Geniet jou stoel" sal jou daarmee help. Dit sal jou bewus maak daarvan dat God elke hier en nou-oomblik vir jou wil heilig.

Kom ons oefen

  • Sit gemaklik op jou stoel met jou voete plat op die grond en met niks in jou hande nie.
  • Konsentreer op jou voete en voel hoe ’n deel van jou gewig op hulle rus. Hoe voel dit daar?
  • Verplaas nou jou aandag na jou sitvlak en voel hoe die meeste van jou gewig daarop rus. Hoe voel dit daar?
  • Rig jou aandag op die stoel se rugleuning en voel hoe ’n deel van jou gewig daarteen rus. Hoe voel dit daar?
  • Ervaar nou al drie die rusplekke van jou gewig saam en laat jou liggaamsgewig daarin los. Voel dit of jy swaarder sit?
Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Oop Vir Die Hier En Nou

Die meeste mense gaan deur die dag sonder om enige godsdienstigheid daaraan te koppel. Ons kan egter bewustelik leef sodat ons besef ons is voortdurend in die teenwoordigheid van die Ewige Een — in alles wat ons dink, do...

More

Ons wil graag Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.bybelmedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid