Leesplan inligting

Oop Vir Die Hier En NouVoorbeeld

Oop Vir Die Hier En Nou

DAG 4 VAN 7

Maak jou binnekant aan die kant

Lees Psalm 10:1, Psalm 42:6, Markus 14:36, Markus 15:34 en 2 Korintiërs 12:7.

Oordenking

Die gedagtegeraas in ons koppe wat maak dat ons nie in die hier en nou is nie, kom hoofsaaklik uit ons harte. En dit is ons emosies wat ons harte en gedagtes so laat warrel.

Ons moet eerstens besef dat emosies ’n werklikheid is. Gedagtes is nie. Ons kan gedagtes maklik laat vaar. As iemand vir jou sê ’n huis brand en jy gaan kyk, maar jy sien dit is die gras langs die huis wat brand, kan jy die heeltemal afsien van die gedagte. As iemand vir jou sê jou motor brand en jy skrik groot en hardloop daarheen, maar jy sien dit is die gras langs die motor wat brand, kan jy wel afsien van die gedagte, maar nie van die emosionele reaksie van jou hele liggaam nie.

Die skrik in jou wil eers behoorlik deur jou gaan. Jy wil jou skok in verligting uitskree of hardloop om water te gaan haal om die brandende gras te blus of ten minste vir mense vertel hoe groot jy geskrik het. As jy maak asof daar niks gebeur het nie, bly die skrik in jou lyf sit. En dit is nie goed vir jou nie. As jy jou rug op ’n onaangename emosie draai, word dit gif; as jy dit verwerk, word dit goud.

Die Bybelgedeeltes wat ons gelees het, wys ons waar ons die antwoord op hierdie ervaring moet soek. Ons het gesien nie die psalmdigter, Jesus of Paulus het gehuiwer om te erken hoe hulle voel en dit te verwoord nie.

Dit is nie sonde om ’n onaangename emosie te beleef of te erken nie. Maar as ons dit ontken en onderdruk, kan dit tot sonde lei. As ons dit reg hanteer, lei dit tot heiligheid.

Gaan met jou sterk emosie deur hierdie vier bewegings:

  1. Voel wat jy voel.
  2. Erken aan jouself dat dit nou ’n werklikheid is dat jy so voel.
  3. Sink in die gevoel in om dit so sterk moontlik te ervaar.
  4. Laat gaan dit dan. As jy tot hier gekom het, is dit makliker.

As gelowige kan jy jou emosie laat gaan deur dit vir die Here te gee. Dit is die beste. Die Here sal jou help om jou binnekant aan die kant te maak. Vandag se oefening sal jou ook hierin ondersteun.

Kom ons oefen

  • Is daar enigiets in jou omstandighede waarvan jy nie hou nie en waarteen jy skop?
  • Indien jy besef daar is so iets, dink daaraan dat dié situasie tans is soos dit is en dat die Here ook daarin is om jou te seën en vir jou die pad vorentoe te wys.
  • Kan daar ’n skuif in jou binnekant oor dié saak kom?
Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Oop Vir Die Hier En Nou

Die meeste mense gaan deur die dag sonder om enige godsdienstigheid daaraan te koppel. Ons kan egter bewustelik leef sodat ons besef ons is voortdurend in die teenwoordigheid van die Ewige Een — in alles wat ons dink, do...

More

Ons wil graag Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.bybelmedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid