Leesplan inligting

Oop Vir Die Hier En NouVoorbeeld

Oop Vir Die Hier En Nou

DAG 5 VAN 7

Jou liggaam is ’n poort

Lees Psalm 63:5, Psalm 47:2, Handelinge 17:25, Handelinge 27-28 en 1 Korintiërs 6:19.

Oordenking

Jou liggaam is een van die grootste geskenke wat jy gekry het. Jou gedagtes wil jou gedurig uit die hede wegneem, maar jou liggaam bly altyd in die hier en nou. Wanneer jy bewustelik ervaar hoe die stoel waarop jy sit, voel, gaan dit nie oor hoe jou liggaam dit ’n minuut gelede ervaar het of oor hoe dit oor ’n minuut gaan voel nie. Dit gaan oor hoe jy dit nóú ervaar.

Daarom vind baie mense wat mediteer dat hulle liggaam hulle help om in die hier en nou te wees en te ervaar wat ’n teks nóú vir hulle wil sê of om oop te wees vir die teenwoordigheid van die Here. Hulle konsentreer op hulle asemhaling of op die gevoel van lewe in hulle hande of op die ervaring van beweging wanneer hulle peinsend gaan stap. Hulle vind dat dit hulle help om meer ontspanne, maar ook meer aandagtig te wees.

Die tempel is die plek waar God woon en verheerlik word. En jou liggaam is ’n tempel (1 Korintiërs 6:19). Die ware aard van jou liggaam is dat dit God se blyplek is — die plek waar jy God dien en loof (1 Korintiërs 6:15,20). Jou lyf behoort dus net so ’n belangrike deel van jou godsdiens te wees as jou denke en emosies. Die Heilige Gees woon nie net in jou gedagtes en gevoelens nie, maar ook in jou liggaam. Wanneer daar staan: “God het ons immers nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timoteus 1:7 NLV), moet jy verstaan dat dié krag nie net in jou gedagtes en emosies lê nie, maar in jou as geheelmens, wat jou liggaam insluit.

Só wil die Bybel jou help om jou liggaam as ’n belangrike deel van jou lewe en godsdiens te beleef en as ’n skat wat jou baie kan help op die pad waarop jy stap. Eksperimenteer self met jou lyf as ’n poort na bewustheid en kontak met God en jy sal jou eie gevolgtrekkings kan maak. Vandag se oefening sal jou hiermee help.

Kom ons oefen

  • Kyk na jou hande en sluit jou oë.
  • Voel hoe jou lyf nou voel.
  • Haal aandagtig asem: Trek jou asem ’n bietjie dieper as gewoonlik in, voel die spanning in jou lyf en voel dan die uitvloei van jou asem.
  • Herhaal dit ses keer.
  • Let op of jou lyf nou anders voel, al is dit minimaal.
  • Maak jou oë nou rustig oop en kyk weer na jou hande. Merk jy iets meer op as aan die begin van die oefening?
Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Oop Vir Die Hier En Nou

Die meeste mense gaan deur die dag sonder om enige godsdienstigheid daaraan te koppel. Ons kan egter bewustelik leef sodat ons besef ons is voortdurend in die teenwoordigheid van die Ewige Een — in alles wat ons dink, do...

More

Ons wil graag Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.bybelmedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid