Leesplan inligting

Oop Vir Die Hier En NouVoorbeeld

Oop Vir Die Hier En Nou

DAG 3 VAN 7

Aanvaar wat nou hier is

Lees Filippense 4:11-13 en 1 Tessalonisense 5:18.

Oordenking

Ek wil jou nooi om versigtig in jou binnewêreld in te gaan en jouself af te vra hoe jy voel oor hoe dinge nou vir jou is. Daar is verskillende moontlikhede soos:

  • Soos dinge nou vir my is, is dit nie goed nie.
  • Soos dinge nou vir my is, is dit nie te sleg nie, maar dit kon beter gewees het.
  • Soos dinge nou vir my is, is dit reg so.
  • Soos dinge nou vir my is, is dit goed so.

Kom ons kyk eers na wat die aanvaarding van die huidige nié beteken nie. Dit beteken nie ons glo God beplan en stuur elke slegte situasie vir ons nie. God is nie die inisieerder van die kwaad nie. God is daarteen.

Dit beteken ook nie jy moet van elke situasie hou nie. As ’n situasie vir jou pyn veroorsaak, moet dit nie ontken nie. Aanvaar dit as deel van die hier en nou waarin jy jou bevind. Laat dinge wees soos dit nou is. Moet dit nie nog moeiliker maak deur daarteen in opstand te kom nie.

Hierdie aanvaarding beteken egter nie jy moenie probeer om dinge beter te maak nie. Dit is ’n volgende stap. Wanneer jy aanvaar het dinge is soos dit is, kan jy beter beplan hoe jy dit kan beter maak, indien dit enigsins moontlik is. Jy kan gerus voel: Dinge moenie blý soos dit nou is nie.

Die dieptedimensie hiervan is wonderlik vir ’n gelowige. Die situasie waarin jy nou is, is die plek waar die Here by jou is en jou wil seën. Die Here wil jou in hierdie situasie gebruik en Hy wil die situasie gebruik om jou te seën.

Moenie teen die lewe veg nie — hanteer dit. Moenie dinge as probleme sien nie — sien dit as situasies wat hanteer moet word. Sien in dat al die goeie en slegte dinge van die lewe soos wolke wat verby jou sweef, is. Wat vandag goed lyk, is môre verby of draai sleg uit. Wat vandag sleg lyk, sal ook verbysweef en draai dalk later goed uit. Al wat blywend is, is dat die Here by jou is en jou in staat stel om alles te hanteer soos dit is.

God is meer hiér en meer teenwoordig as jy. En God trek jou nader om meer hier te wees waar Hy is. So trek God jou tot in die heilige hede. Watter heerlike, vry gevoel om tuis te wees waar jy nou is!

Respekteer daarom die situasie waarin jy nou is en stel jouself daarvoor oop. Ervaar dit ten volle. Wees tuis daarin. As jy die hele tyd wens dinge was anders, ontneem jy jouself van die avontuur van die hier en nou. Maak jou oop vir die Here wat jou wil seën in jou situasie soos dit nou is. Vandag se oefening sal jou hiermee help.

Kom ons oefen

  • Hoe voel jy oor die situasie waarin jy jou tans bevind? Plaas jouself op ’n 10-punt-skaal waar 0 beteken jy aanvaar jou situasie ten volle sonder enige weerstand en waar 10 beteken jy ervaar algehele weerstand teen jou huidige situasie. (Weerstand beteken jy voel dinge moenie wees soos dit nou is nie.)
  • As jy weerstand ervaar, waarteen is dit?
  • Waar is die Here nou vir jou in hierdie situasie?
  • Wat doen dit aan jou hart om laasgenoemde vraag te oordink en te beantwoord?
Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Oop Vir Die Hier En Nou

Die meeste mense gaan deur die dag sonder om enige godsdienstigheid daaraan te koppel. Ons kan egter bewustelik leef sodat ons besef ons is voortdurend in die teenwoordigheid van die Ewige Een — in alles wat ons dink, do...

More

Ons wil graag Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.bybelmedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid