Leesplan inligting

Oop Vir Die Hier En NouVoorbeeld

Oop Vir Die Hier En Nou

DAG 7 VAN 7

Doen iets bevrydend

Lees Matteus 6:31-34, Efesiërs 6:6-7 en Galasiërs 2:20.

Oordenking

Besig-wees kan ’n vloek of ’n bevryding wees. Ons almal weet dit. Wanneer ek in my werk deur oorhaastigheid oorval word, voel dit of ek innerlik doodgaan en nie tyd vir enigeen of enigiets anders het nie. My oomblikke is so gevul met bekommernis en haas dat ek selfs by die mooiste oomblikke verby jaag. My dag is dan soos ’n geskenk wat ek weggooi sonder om dit oop te maak.

Navorsers het bevind dat mense op hulle gelukkigste is wanneer hulle “in vloei” is — wanneer hulle energiek besig is om te doen wat hulle kan en wil doen. Ons almal ken hierdie gevoel.

Hoekom werk ons dan nie altyd só nie? Daar is oortuigings diep in ons wat veroorsaak dat ons ’n verkeerde gesindheid teenoor besig-wees het. Dis ’n ingesteldheid wat daartoe lei dat ons ’n vloek van besig-wees maak.

In baie van ons is daar ook ’n neiging om die lewe te wil forseer. Ons voel dan ons huidige situasie moes beter gewees het en ons wil die toekoms volgens ons eie voorkeure beplan. As dinge dan anders verloop, soos dikwels gebeur, wil ons by ons eie planne bly, met die gevolg dat ons teen die stroom in moet spook en spartel. Hierdie ingesteldheid sê ons besig-wees moet ons lewe rig en bepaal. Dit het die motto: “Ek is beskikker van my lot.”

Met hierdie ingesteldheid is jy soos ’n wandelaar in die veld wat net jou eie kompas wil volg en nie bereid is om ’n draai rondom ’n heuwel of vlei te loop nie. Die gevolg is dat jy dikwels met onnodig baie moeite en energie op moeilik begaanbare plekke baie sukkel om vorentoe te gaan. As dit is hoe jy jou lewe leef, is daar onnodig baie druk op jou. Planne is deel van die lewe, maar jy moet jou planne kan verander of laat vaar, want die lewe gebeur soos dit gebeur en dikwels anders as wat ons verwag het. “Dis maar die lewe ...”

Dit gebeur ook soms dat ons lewe so vol is, omdat ons glo hoe meer aktiwiteite ons kan inprop, hoe groter kan ons uitsette wees. Feit is, ons is menslike wesens, maar die samelewing wil ons doeners maak . En dan word ons so besig dat ons skade ly. Ons doen miskien meer, maar daar is minder van wat ons kan wéés. Ons doen miskien meer, maar daar is minder van óns in wat ons doen. God het ons geskep, nie net om te doen nie, maar om ’n weerkaatsing van Hom te wees. En as ons ons doen belangriker ag as ons menswees, sit ons druk op wat ons doen, wat die ligtheid en vreugde daaruit haal.

Daarom, mag ons innerlik so omvorm word dat ons ons besig-wees beleef as iets wat ons vir die Here doen. Dan sal dit vir ons ’n vreugde en ’n bevryding wees. Die belangrikste is immers waarmee jy nóú besig is, want God is daarin en daarom is jy in jou besig-wees in sy teenwoordigheid.

Doen gerus iets op hierdie oomblik wat jou sal bevry. Groot of klein. Die oefening sal jou daarmee help.

Kom ons oefen

  • Kort voor lank sal daar weer ’n onderbreking wees of ’n probleem opduik. Oefen om hierdie gebeurtenisse as sakramente te aanvaar en te beleef.
  • Jy het gekies om dié groeiplan te doen. Kan jy insien en beleef dat dit eintlik die Here is wat jou hiertoe beweeg het en dat jou lees en oefen eintlik sý besig-wees met jou is?

Hierdie leesplan is ’n verwerking van gedeeltes uit Oop vir die oomblik van Willem Nicol. Vir gratis hoofstukke uit die boek en Bybelstudie, www.eshop.bybelmedia.org.za/youversion. Ons hoop dit sal jou inspireer op jou geloofsreis.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Oop Vir Die Hier En Nou

Die meeste mense gaan deur die dag sonder om enige godsdienstigheid daaraan te koppel. Ons kan egter bewustelik leef sodat ons besef ons is voortdurend in die teenwoordigheid van die Ewige Een — in alles wat ons dink, do...

More

Ons wil graag Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.bybelmedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid