Leesplan inligting

Diep Reiniging: Raak Ontslae van Skaamte, Giftige Invloede en OnvergewensgesindheidVoorbeeld

Deep Clean: Getting Rid of Shame, Toxic Influences, and Unforgiveness

DAG 1 VAN 7

Diep Reiniging van Ons Harte 



Dink na oor die gevoel wat jy kry wanneer jy jou leefruimte skoongemaak het. Die deurmekaar en oorvol vertrek is mooi reggepak, die oppervlaktes kry daardie blink, skitterende skynsel en alles ruik vars en nuut. Terwyl jy rondkyk, begin jy tevrede voel — dat jy weer kan asem haal. 



Daar is al TV programme gemaak oor mense wat huise aan die kant maak, spense verskillende kleure verf en hul goed minimaliseer. Terwyl ons vinnig is om van ons rommel ontslae te raak, wat egter van die innerlike werk of die reiniging van ons siele? 



Baie van ons dra emosionele bagasie saam en ons gedagtes kan oorweldigend wees. In plaas daarvan om dit die hoof te bied, ignoreer ons dit liewer. Dit is makliker om aan te hou beweeg en besig te bly met aktiwiteite, as om die ware geestelike las wat ons dra onder oë te sien. 



Net soos ons nie ons huise kan "skoonmaak" deur alles in 'n kas te prop nie, kan ons nie ons emosionele laste in 'n liasseerkabinet in ons breine inprop nie. Indien ons dit doen, sal ons lewens uiteindelik uitloop op konflik in ons verhoudinge, fisieke newe-effekte en gegriefdheid. 



Ons het nie nodig om te wag totdat ons breekpunt bereik om dan eers te evalueer wat gebroke is nie. Trouens, dit is 'n gesonde gewoonte om die Heilige Gees gereeld te nooi om ons gedagtes en harte te ondersoek en te reinig. 



Ons sien vir Dawid as rolmodel in Psalm 51 met hierdie benadering. Hy was bekend as 'n man so reg na God se hart — maar het ook sy oortredinge begaan. Erge oortredinge. Hy het met Batseba owerspel gepleeg, en toe het hy dit probeer wegsteek deur haar man te laat doodmaak. 



Hy het daarna 'n pleitbede om vergifnis geskryf en hierdie gebed tot God gerig: 



"Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig" Psalm 51:12 AFR83. 


Dawid se berou was 'n opregte bekering. Hy het nie sy emosies eenkant toe geskuif of in skaamte weggekruip nie. Hy het hom na God toe gekeer. Hy het vir God genooi om sy hart te reinig. 



Elke dag het ons die geleentheid om dieselfde te doen. 



Wanneer ons oorweldig voel deur skuldgevoelens, skaamte, bitterheid, woede of onvergewensgesindheid, kan ons God vra om ons harte te reinig. Wanneer ons voor versoeking te staan, kan ons God vra om ons te reinig. Selfs op 'n gewone dag kan ons God vra om ons harte te reinig en ons gedagtes op Hom te rig. 



Dit is tyd om in ons siele te belê net soos ons in ons huise belê. 



Dit is belangrik om kennis te neem dat om ons siele te reinig nie ons gedrag vinnig verander nie. Dit gaan dieper. Om ons siele te reinig, begin deur die toestand van ons harte te evalueer. 



In Matteus 23, praat Jesus van Fariseërs wat versigtig is om die regte dinge te doen in die kleinste besonderhede, maar die werklike motivering in hul harte miskyk. Jesus verduidelik waarom dit belangrik is om nie net die oppervlak van ons lewens skoon te maak nie, maar hoekom ons die Gees moet toelaat om ons harte te herskep: 



“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. Blinde Fariseërs, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees” Matteus 23:25-26. 


Oor die volgende paar dae sal ons gesels oor hoe om ons siele te reinig van giftige invloede, verhoudings en bitterheid. Staan dus vandag tyd af om na te dink: Watter areas in my siel het nodig om gereinig te word? 



Gebed: Vader, skep in my 'n rein hart. Openbaar aan my wat in my lewe is waarmee U nie tevrede is nie. Wys aan my enige areas waarin ek die Heilige Gees moet toelaat om my te reinig, en help my om U te verheerlik deur die wyse waarop ek lewe. In die Naam van Jesus. Amen. 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Deep Clean: Getting Rid of Shame, Toxic Influences, and Unforgiveness

Sê nou jy het nie nodig om te wag totdat jy breekpunt bereik om dit wat in jou lewe gebroke is te herstel nie? Net soos wat ons daarin belê om ons huise skoon te maak, is dit tyd om die Heilige Gees uit te nooi om ons ha...

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid