Nuwe Hoop Vervul die Hele Aarde: 'n 2020 Advent OordenkingVoorbeeld

The Weary World Rejoices: A 2020 Advent Devotional

DAG 4 VAN 5

Dag 4: Skaapwagters

Stel jou voor jy is op 'n afgeleë strand in die middel van die nag. 

Terwyl jy op die sagte, koel sand van die strand stap, mag jou oë dalk 'n tydjie neem om aan die donkerte om jou gewoond te raak. Daar is geen straatligte, geen lampe, geen spreiligte naby nie. Tog, wanneer jy dan na die hemel opkyk, staan jy in verwondering, bekoor deur die skoonheid en helderheid van die ontelbare sterre. Die sterre lyk helderder en duideliker as wat jy dit nog ooit gesien het, omdat daar geen kunsmatige lig is wat daaraan afbreuk doen nie.

Soms het ons totale duisternis om ons nodig om die lig te sien wat nog die hele tyd om ons was. Wat eers ver was is nou asemrowend helder.

Stel jou voor, die nag toe die engel na die skaapwagters gekom het, was hulle in totale duisternis. Hulle het waarskynlik gegaap en die donker horison gefynkam vir roofdiere wat hulle kuddes kon aanval. Hulle oë was ook aan die pikdonker gewoond met slegs die sterrehemel as hulle bron van lig.

Die Skrifgedeelte sê "die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn" toe die engel aan hulle verskyn het (Lukas 2:9b). Onmiddellik het die skaapwagters hulle boeglam geskrik. Tussen die engele en die skitterende lig van God se heerlikheid, was dit te verstane. 

Hierdie "vuil" uitgeworpenes was tipies van die gemeenskap uitgesluit, maar nou was hulle skielik in die kollig. Hulle word raakgesien. Hulle het waarskynlik nooit verwag dat die nuus van die Messias se geboorte na hulle toe gebring sou word nie. Of dat God skaapwagters sou gebruik om die aankoms van die Lam van God aan te kondig nie.

God het met onwaarskynlike mense gepraat. Met 'n nederige jong maagd. Met haar ambagsman verloofde. Met onaantasbare skaapwagters. Hierdie onwaarskynlike mense sou op die mees onverwagse maniere sy boodskappers word.

Jare later was ander onwaarskynlike mense van daardie tyd — vroue — gekies om die nuus van Jesus se opstanding te bring. Jy voel dalk soos 'n onwaarskynlike kandidaat, maar God kan jou gebruik om in hierdie Kerstyd van die Redder te getuig! Hy kan jou gebruik om lig te bring wat deur 'n tam, donker wêreld kan breek.

Oordenkingsvrae:

  • Wanneer het jy laas goeie nuus ontvang? Wie het dit aan jou oorgedra?
  • Hoe sou jy reageer het as jy 'n stadsmens was en die nuus van Jesus se geboorte is deur 'n skaapwagter aan jou oorgedra?
  • God gebruik onwaarskynlike mense om sy koninkryk op aarde te vestig. Hoe kan daardie feit jou hierdie week bemoedig?

Aangaande hierdie leesplan

The Weary World Rejoices: A 2020 Advent Devotional

Die Adventtyd bring normaalweg vreugde en Kersliedere, maar miskien was hierdie jaar vir jou baie moeilik gewees. In hierdie 5-dag leesplan sal jy ontdek hoe diegene wat by die geboortetoneel teenwoordig was, teenoor God reageer het te midde van hulle omstandighede en hoe hulle verhale aan jou hoop kan gee.

More

Baie dankie aan Wycliffe Bible Translators wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.wycliffe.org/