Nuwe Hoop Vervul die Hele Aarde: 'n 2020 Advent OordenkingVoorbeeld

The Weary World Rejoices: A 2020 Advent Devotional

DAG 3 VAN 5

Dag 3: Josef

Van al die karakters in die geboortetoneel, is daar een van wie ons nie veel weet nie: Josef. Ons hoor meestal van hom in Matteus se weergawe van Jesus se geboorte; daar leer ons dat Josef deur 'n engel van die Here in 'n droom gegroet en aangesê is om nie bang te wees om Maria as sy vrou te neem nie. Josef het wakker geword en die engel geglo.

Ons leer 'n paar belangrike dinge oor Josef in hierdie kort Skrifgedeelte:

  • Josef was 'n "wetsgehoorsame man." Daar is nie baie karakters in die Bybel na wie spesifiek oor hul wetsgehoorsaamheid verwys word nie. Josef is een van hulle. Toe hy Maria in die openbaar oor haar skynbare ontrouheid tot skande kon maak, het Josef goedhartigheid aan haar bewys deur te kies om die aangeleentheid as privaat te hanteer. Hy het beplan om op 'n eerbare manier in die geheim van Maria te skei. In plaas daarvan om Maria in die skande te bring, was Josef gewillig om die pad van waardigheid te volg.
  • Josef was ook bang. Normaalweg is mense vir engele bang, sodat engele verplig is om mense aan te sê om hulle nie te vrees nie. Die engel van die Here sê vir Josef egter van iets anders wat hy nie moet vrees nie: om Maria sy vrou te maak. Josef was waarskynlik bekommerd oor die openbare skande, vernedering en dalk selfs om van sy familie afgesny te word. God het dit geweet en hom te midde van daardie vrees tegemoet gekom.
  • Josef verkies om die ongelooflike te glo. Dit was ongelooflike omstandighede, maar Josef het die keuse gemaak om in God se leiding te glo, bo vertroue in die stemme van sy familie en die gemeenskap. Wat dink jy het dit van hom geverg?

Josef was gewillig om baie te verloor deur God se leiding te volg — hy het waarskynlik sy reputasie en verhoudings met vriende en familie op die spel geplaas.

As ons na die wêreld om ons kyk, is dit 'n versoeking om te dink aan alles wat ons op die spel plaas as ons doen wat God van ons vra. Josef het waarskynlik getwyfel en vrae gehad; hy was tog net 'n mens. Tog het hierdie vrae en vertwyfeling hom teruggelei na die waarheid dat God in beheer is. Hy was Josef se finale bron van waarheid en versekering.

God se woorde wat deur die engel uitgespreek is, was die enigste rede waarom Josef gewillig was om so 'n groot risiko te neem. God se woorde aan jou, deur die Skrif, is die rede waarom jy met vrymoedigheid op Hom kan vertrou.

Oordenkingsvrae:

  • Wat het jy voorheen van Josef geweet? Het jou siening oor hom verander? Hoekom of hoekom nie?
  • Wat kan Josef se reaksie op sy droom ons leer van vertroue in God?
  • Wat is die een ding wat God jou vra om te doen wat moontlik 'n risiko vir jou kan inhou?


Aangaande hierdie leesplan

The Weary World Rejoices: A 2020 Advent Devotional

Die Adventtyd bring normaalweg vreugde en Kersliedere, maar miskien was hierdie jaar vir jou baie moeilik gewees. In hierdie 5-dag leesplan sal jy ontdek hoe diegene wat by die geboortetoneel teenwoordig was, teenoor God reageer het te midde van hulle omstandighede en hoe hulle verhale aan jou hoop kan gee.

More

Baie dankie aan Wycliffe Bible Translators wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.wycliffe.org/