Nuwe Hoop Vervul die Hele Aarde: 'n 2020 Advent OordenkingVoorbeeld

The Weary World Rejoices: A 2020 Advent Devotional

DAG 2 VAN 5

Dag 2: Maria

Maria het die volste reg gehad om bang te wees. 

Sy was jonk, verloof en nou hoor sy ook dat sy swanger is. Om alles te kroon, is die nuus deur 'n engel aan haar oorgedra. Jy weet, geestelike wesens wat geneig is om vreesaanjaend te wees. 

Terwyl Maria die nuus verwerk het, kan ons ons amper indink wat deur haar kop moes gegaan het. Sal haar familie haar onterf? Sal die mense in die dorp allerhande afleidings maak en skinder? Sal Josef enigiets hiervan glo? Sal sy verwerp en geminag word? Of erger?

Tog, die gedagte waarop Maria gekies het om te berus, was nie een van vrees nie, maar van geloof: "Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het" (Lukas 1:38). 'n Ruk later, toe Maria haar niggie Elisabet gaan besoek het, het sy gesê: "Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!" (vers 45).

Dit sou lekker gewees het om te kon sê dat ons algemene reaksie op vrees soos Maria se reaksie is: lofprysing en hoopvolle verwagting. Laat ons maar realisties wees. Vrees kruip in ons gedagtes en siele soos die stadige aanrol van 'n donker wolk voor 'n storm. Hoe reageer jy? Trek jy terug? Isoleer jy jouself? Hou jy jou vrees naby aan jou bors en val vas in 'n eindelose klomp "sê-nou-maars"?

Kom ons kyk na Maria se reaksie. Nadat Maria vir Elisabet besoek het, het sy haar aandag op God gevestig met 'n lied wat bekend is as die "Magnificat" (wat beteken "Ek besing die grootheid van die Here" — Lukas 1:46). Daar is 'n paar dinge in hierdie lied wat jou sal help as jy daarna smag om jou grondslag in hoop te vind wanneer vrees oral om jou woed:

  • Maria begin met lofprysing. Die hele lied handel daaroor om te sing oor God se heerlikheid en, alhoewel Maria moontlik baie vrae gehad het oor wat dit beteken om geboorte aan die Verlosser van die wêreld te skenk, begin sy met blydskap in plaas van kommer.
  • Maria het haar deel in God se verhaal onthou. In verse 47-48, sê Maria: "Ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem." Maria het geweet dat God in beheer is; Hy is die een wat haar geskep en bemagtig het. Die herinnering dat sy sy skepping is, het Maria toegelaat om te fokus op die waarheid van wie sy is en wie God is. Sy is herinner dat haar gedeelte van die verhaal nie die einde daarvan was nie.
  • Maria het God se goedheid en geregtigheid onthou. Maria het nie net nagedink oor die seëninge wat God oor haar uitgestort het, of die beloftes wat Hy aan Israel gemaak het nie; sy het ook oordink hoe God verkeerde dinge weer kan regstel (verse 51-53). 

Maria het vrees verdryf met lofprysing. Sy het haar onsekerheid opsy geskuif deur die waarheid van wie God is en deur haar rol in sy verhaal te onthou. Sy het verby kommer oor verwerping of 'n geskinder gekyk en onthou dat sy 'n God van geregtigheid dien.

Daarom kon Maria hoop. En jy ook.

Oordenkingsvrae:

  • Wanneer het jy deur vrees oorweldig gevoel? Hoe het jy gereageer?
  • Watter emosies dink jy het Maria gevoel toe die engel die nuus aan haar oorgedra het?
  • Hoe kan Maria se reaksie op God se nuus jou in hierdie Kersfees bemoedig?


Aangaande hierdie leesplan

The Weary World Rejoices: A 2020 Advent Devotional

Die Adventtyd bring normaalweg vreugde en Kersliedere, maar miskien was hierdie jaar vir jou baie moeilik gewees. In hierdie 5-dag leesplan sal jy ontdek hoe diegene wat by die geboortetoneel teenwoordig was, teenoor God reageer het te midde van hulle omstandighede en hoe hulle verhale aan jou hoop kan gee.

More

Baie dankie aan Wycliffe Bible Translators wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.wycliffe.org/