Leesplan inligting

Om op God te WagVoorbeeld

Waiting on God

DAG 4 VAN 8

Die Afgode Wat Jou Geloof Belemmer  



Terwyl ons op die Vader fokus en geduldig wag vir sy wil om die weg vir ons lewens wyd oop te maak, mag ons dalk ontdek dat baie dinge ons verhoed om ons verhouding met God te verdiep en ons geloof in Hom uit te leef. 



Hierdie vestings — of afgode — is baie subtiel. Hulle kruip ongesiens in jou lewe in, skiet wortel in jou emosies en word dan vir jou belangriker as God. 



Niemand anders as die Here kan 'n afgod identifiseer nie ... want Hy sien baie duidelik wat in jou hart aangaan. Enigiets in jou lewe wat met jou volkome toewyding aan God meeding, is 'n afgod. Wat is dit dus in jou? Wat is hierdie dinge — verborge of bekend aan jou — wat jou daarvan weerhou om geduldig te wag tot die Here se wil vir jou lewe geopenbaar word. Vra die Vader om hulle aan jou te onthul. Hy het belowe om getrou te wees en jou te wys indien daar 'n afgod bestaan en waar dit is. Wees egter baie versigtig dat jy nie dit wat Hy aan jou onthul wegredeneer nie. Wanneer die Here iets in jou lewe uitwys, moet jy daarop ingestel wees om dit dadelik uit die weg te ruim.



Hier is 'n paar algemene afgode wat in ons lewens voorkom:




  1. Ons Eie Begrip — Ons verloor soms ons fokus op die Vader wanneer ons nie heeltemal verstaan wat besig is om te gebeur nie. Dus ontleed ons herhaaldelik situasies en ons doen onophoudelike noukeurige ondersoeke vanuit elke hoek waaraan ons kan dink. Wanneer die gebeure dan nie plaasvind soos ons verwag het nie, voel ons moedeloos en ontnugter. Moenie in hierdie strik trap nie. God beveel jou uitdruklik om volkome op Hom te vertrou en nie staat te maak op jou eie insigte nie (Spr. 3:5-6). 

  2. 'n Gevoel van Veiligheid — Ons hou nie daarvan om nie in beheer te wees of om Iemand wat ons nie kan sien nie, met ons toekoms te vertrou nie. Ons verkies 'n vaste inkomste, betroubare hulpbronne, en voorspelbare resultate. Wanneer ons dus gedwing word om te wag, moet toekyk hoe ons rekeninge ophoop, of bedreigings teëkom wat ons gevoel van welstand uitdaag, kweek ons onsekerheid 'n gevaarlike wantroue in die Vader. 

  3. Doelwitte en Drome — Ons word so gedrewe om ons ideale en daaglikse doelwitte te bereik dat ons vergeet van die ewige lewe wat vir ons gegee is (Joh. 17:3) en al die goeie dinge wat die Here vir ons beplan om te bereik. Ons drome word 'n afgod wat belangriker is as dit wat die Vader in ons en deur ons wil doen.

  4. Verhoudings — Sekere verhoudings in ons lewens kan afgode word. Dit maak nie saak hoe hard jy probeer om op die Vader te fokus nie, jou aandag keer terug na die betrokke persoon of groep mense. Gevoelens van verwerping, vrees, 'n tekort aan eiewaarde, of bitterheid duik voortdurend op weens jou omstandighede — en uiteindelik dryf hulle jou weg van God af, nie ná Hom toe nie. 

  5. Die Verlede — Verhoudings uit die verlede kan struikelblokke in ons verhouding met God word. Wanneer verskriklike goed gebeur, is die menslike reaksie om te wonder hoekom die Vader ons toelaat om te ly. Wanneer ander mense ons seermaak, wanneer ons onvergewensgesind is, of wanneer ons toelaat dat die onvriendelike behandeling van ander mense bepaal hoe ons die Vader sien, kan hierdie gevoelens afgode in ons lewens word en dit ondermyn ons geloof in Hom gedurende ons wagperiode.

  6. Stokperdjies — Ons stokperdjies en gunsteling vorms van vermaak kan ook meeding met ons verhouding en geloof in God. Tydverdrywe soos sport, inkopies, televisie, oefening, sosiale media, en ander belangstellings is nie noodwendiglik op sigself verkeerd nie, tensy hulle egter meer van jou aandag as die Here kry.


Onthou: Wat jy ook al vir die Here gee, Hy gee soveel meer aan jou terug. Ek het dit in my eie lewe sien gebeur en kan met uiterste vertroue sê dat jy die Vader heeltemal kan vertrou met enigiets wat Hy van jou vra. Maak dus jou hande oop en gee aan jou hemelse Vader die dinge waaraan jy vashou. Wanneer jy jou geloof en vertroue ten volle in Hom plaas en Hom nooi om nommer een in jou lewe te wees, sal seëninge oor jou spoel wat jou verstand te bowe gaan. Dit sal ook jou wagperiode soveel makliker en vrugbaarder maak. 


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Waiting on God

Wag jy vir God om jou gebede te beantwoord? Gaan die dae, maande en jare verby sonder enige bewys dat jou diepste verlangens ooit vervul sal word? Indien wel, is jy nie alleen hierin nie. Sluit by Dr. Charles Stanley aan...

More

Ons wil graag "In Touch Ministries" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Besoek gerus https://intouch.cc/yv-waiting-on-god2 vir meer inligting

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid