Leesplan inligting

Oordenking: Bid vir lande regoor die wêreldVoorbeeld

Around the World Prayer Devotional

DAG 4 VAN 30

Kintsugi: Die Heerlikheid van Gebrokenheid en Genesing


Vakmanskap was beide in die verlede en hede as 'n belangrike deel van die Japannese kultuur beskou. Vakmanne sal jare, selfs dekades aan dieselfde taak wy en dit herhaalde kere oordoen om hulle kuns te vervolmaak, of dit nou soesji of kimonos is. Dieselfde geld vir pottebakkery; 'n vakleerling sal vir jare lank in 'n meester se huis werk om te leer hoe om 'n goeie vaas of bak te maak.


Kleiware kan egter, net soos alle materiële dinge, ook breek. Jy kan jou indink hoe geskok iemand sal wees wat per ongeluk 'n waardevolle bak breek. Wat sou jy in so 'n situasie doen? Sou jy hierdie meesterstuk weggooi wat geskep is deur 'n beroemde pottebakker wat oor dekades lank opgelei is? Of sou jy probeer om die stukke aanmekaar te gom en maak asof niks gebeur het nie?


Wat as daar 'n ander manier was? In Japan word dit kintsugi genoem. Dit is die metode wat gebruik word om items met behulp van goue lak te herstel. Deur middel van kintsugi kan mooi, maar stukkende items in iets selfs mooier omskep word.


In die Bybel word God op verskillende plekke as 'n pottebakker beskryf: Jesaja 29:16, Jesaja 45:9 en Jeremia 18:1-6. Hy is ons Skepper; ons behoort aan Hom en Hy kan ons skep of herskep soos Hy wil. Op dieselfde trant glo ek dat God die Een is wat kintsugi doen, gebrokenes genees en herstel, soos die psalmdigter sê: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde” (Psalm 147:3).


God genees ons nie net van ons gebrokenheid nie, maar Hy neem ons na 'n ander vlak van heerlikheid. Jesus het byvoorbeeld vir Petrus, 'n visserman, sy dissipel gemaak. Tog het Petrus Jesus net voor sy kruisiging verloën. In Johannes 21 genees, vergewe en herstel Jesus vir Petrus — nie om weer 'n visserman te wees of selfs net 'n dissipel nie, maar om die rots te wees waarop Jesus sy kerk sou bou (Matteus 16:18). 


Kom ons kyk na nog 'n voorbeeld — Jesus. Alhoewel God sy heerlikheid deur Jesus se aardse bediening geopenbaar het, het Christus na sy wrede kruisdood uit die dood opgestaan en sy liggaam is verheerlik, alhoewel die spykermerke van sy kruisiging nog aan sy hande was. 


Kintsugi gee vir ons insig in twee Bybelse beginsels. Die eerste een is dat wanneer God ons genees en herstel, neem Hy ons nie terug na waar ons oorspronklik was nie, maar in plaas daarvan neem Hy ons vorentoe in 'n nuwe rykdom van heerlikheid.


Die tweede beginsel, wat deur die spykermerke in Jesus se opgestane liggaam voorgestel word, is dat ons verlede deel van ons is, selfs ons gebroke verlede. Kintsugi steek nie die feit weg dat 'n item gebreek het nie. Dit erken eerder dat die item gebreek het, maar lei ons aandag na die glinsterende goue lak waarmee dit herstel is.


Kom ons gaan terug na 'n vorige vraag: Wat doen jy met iets wat gebreek het? Of anders gestel, wat doen jy as jy gebroke is? Leef jy met jou gebrokenheid sonder om genesing te soek of verwerp jy jouself? Gaan jy probeer om jouself weer reg te ruk, en voorgee dat jy nog nooit seergemaak was nie of dat jy 'n vlekkelose lewe geleef het? Ek hoop dat jy as 'n gebrokene na jou Skepper sal gaan en Hom vra om jou nie net te herstel nie, maar om jou ook met goud heel te maak.


Gebedsversoeke


· Bid vir 'n herlewing in Japan. Uit 'n bevolking van 126 miljoen is slegs 0,6 persent evangeliese Christene, wat die Japannese die tweede grootste onbereikte mensegroep ter wêreld maak.

· Bid vir die volgende geslag in Japan, wat afsondering en uiterste akademiese druk ondervind en deur materialisme beïnvloed word.
Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Around the World Prayer Devotional

Welkom by jou groot avontuur! Deur middel van hierdie oordenkings gaan ons deur die wêreld reis en waarhede in die Woord van God ontgin. Ons toergidse is vriende van die uiteenlopende netwerk van "OneHope" se wêreldwye v...

More

Ons wil graag vir OneHope bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://onehope.net/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid