Leesplan inligting

My Kind is Anders: Ondersteuning vir die Goeie en Slegte TyeVoorbeeld

My Child’s Different: Support for the Ups & Downs

DAG 5 VAN 8

Vandag se oordenking is deur Heather Brower, 'n ma wat 'n fantastiese en ook outistiese seun, Michael, grootmaak. 



Om Ouerlike Angs te Hanteer 



Ouerlike angs is geen grap nie. Nou praat ek nie van ouerlike bekommernisse — die soort wat elke ouer het nie. Ek praat van 'n voluit, sweterige, bonsende hart soort vrees. Net meer as 'n jaar gelede het ek 'n angsaanval gehad wat my in die noodeenheid laat beland het. Wat het dit veroorsaak? Hierdie gedagte: Ek mag nie sterf nie.



Dit is omdat ek die enigste persoon op hierdie planeet is met wie my outistiese seun gemaklik is. Ek begryp hom beter as enigiemand anders. Hoe sal sy lewe sonder my wees? Ek mag nie sterf nie! Dit is 'n gedagte wat byna elke ouer pla wat iemand met spesiale behoeftes grootmaak. 



Dis waarop dit neerkom. Ek het baie lesse oor angstigheid in my lewe geleer. Wanneer dit by dinge kom soos om jou te bekommer, katastrofes te verwag en verdoeming aan te voel, staan ek voor in die ry. Ek wens ouerlike angs was nie iets waarmee enigeen (veral nie ons in die spesiale behoeftes gemeenskap) moes worstel nie. Nietemin, aangesien dit so is, wil ek graag van die lesse vertel wat ek met die verloop van tyd geleer het.




  1. Laat vaar. Net omdat jy nie in beheer is nie, beteken nie jy het geen beheer nie. Reg? Jy is dalk nie aan die stuur van sake nie, maar dit beteken ook nie jy hel oor na vernietiging nie. As jy God gevra het om jou lewe te rig, het jy 'n goeie bestuurder. Hy is 'n goeie Vader en Hy ervaar nooit ouerlike angs nie. Laat vaar dus en laat Hom toe om te lei. 

  2. Fokus op die dinge waarmee dit goed gaan. Ek het eenmaal 'n vertoning van opgeleide voëls in 'n temapark bygewoon. Die afrigter het iets gesê wat my diep geraak het. Dit was so iets: "Weet julle hoe ons hierdie voëls afrig om die toertjies te doen? Dit is bloot positiewe bevestiging. Ons straf nooit die voëls as hulle nie die toertjies regkry nie. Ons gee hulle net 'n beloning wanneer hulle dit wel regkry." In plaas daarvan om op ons vrese te konsentreer, moet ons eerder ons gedagtes vestig op die dinge wat waar, goed en reg is. 

  3. Jy is nie goed genoeg nie — en dis in orde! Maak hierdie sin seer? Ek hoop nie so nie! Fokus eers op die "en dis in orde" gedeelte. Jy + Meer Van Jou = Nog Altyd Net Jy. Aan die ander kant is Jy + God = Genoeg! Hou op om jou brein in te span en jou pogings in sirkels te dryf deur aan alles te probeer dink en doen. Reik uit! Kry jou eie berader. Soek 'n dokter met wie jy kan praat. Laat jou huweliksmaat in. Laat jou vriende in. Dit is hoe ons die wet van Christus volvoer!

  4. Hou op om môre al 'n ouer te wees. Wees net 'n ouer vir vandag se probleme. Net omdat jou kind vandag X gedrag openbaar, beteken nie hy sal môre gedrag Y openbaar nie. Wat as is twee van die gevaarlikste woorde vir 'n ouer van 'n kind met spesiale behoeftes, om aan te dink. Daar is te veel wat onbekend is. Dit is sinneloos om vandag se vreugdes te verspil deur aan môre se hartseer te dink. Buitendien, wat as dinge môre goed verloop?

  5. Kry weer jou glimlag. Is  jou kind midde-in 'n opstandige fase? Probeer om hulle "NEE!" met 'n glimlaggie te verlig. Het julle terapeut gekanselleer toe julle al op pad was? Hou stil by julle gunsteling speelplek en hou 'n spontane partytjie met die outjie! Moet hy alweer in die hospitaal bly? Bring musiek, jou kind se gunsteling kombersie, sy gunsteling rolprent, 'n lekkerruik-olie om te versprei, 'n pen om gesiggies op die hospitaalmaskers te teken — enigiets wat die gemoed kan verlig en 'n lewegewende glimlag uitlok. Dit is sulke goeie medisyne.

  6. Versorg jouself. Jy kan jou kind nie help as jy nie gesond is nie. Ek versorg my fisieke- en geestesgesondheid sodat ek my vrese om voortydig te sterf kan besweer, en om daar te wees vir my gesin. Ek moet beslis ook my fisieke- en geestesgesondheid met my geestelike gesondheid balanseer. Om eerlik te wees, was kerkbywoning en aanbidding saam met my gemeenskap dikwels 'n opoffering. Elke keer wat ek egter daardie opoffering maak, bou God my geloof, versterk Hy my gees en gee Hy my die vreugde wat ek nodig het om deur nog 'n week te kom!

  7. Soek na wysheid soos na suurstof. Daar kom dae waarop ons spesiale-behoefte ouers eenvoudig nie weet wat om volgende te doen nie. Dinge werk net nie uit nie. Daar is nie terapieë beskikbaar wat goed nagevors is nie. Iemand het 'n "wonderkuur" vir jou per e-pos gestuur. Wat volgende? Soek na wysheid. Staak vir eers jou Google-soektogte. Bel iemand. Praat met 'n leraar, berader, skoolbeampte, dokter of 'n ander ouer om die nodige wysheid te verkry. Vra egter eerder vir God. Hy is tog die wysste Wese in alle ruimte en tyd.

  8. Jy en jou kind is op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Weet jy wat angs graag vir jou sê? "Jy is nie goed genoeg nie". Weet jy wat angs nog verder wil sê? "Jou kind is nie goed genoeg nie". Weet jy watter kolskoot jy daarop kan antwoord? "Beide my kind en ek is as die beeld van God geskep." Ons Skepper en hemelse Vader het elke mens versigtig en wonderbaarlik geskep. Hy ken die unieke wyse waarop Hy jou gevorm het om die ouer van jou kind te wees. Hy ken ook die unieke lewe wat jou kind sal lei. Dit is 'n wonderlike ding!

  9. Dank God asof dit jou roeping is. Skryf elke dag in jou joernaal iets waarvoor jy dankbaar is. Net een ding. Voeg ook 'n sin by waarom jy vir daardie ding dankbaar is en dit jou help. Ek vind dit onmoontlik om beangs te wees wanneer ek oor dankbaarheid in my joernaal skryf. Dit is net 'n ander manier om jou denke te oefen om te fokus en te voel wat reg is. Dit oefen jou hart om op die uitkyk te wees wat anders jy het om elke dag dankbaar oor te wees. Wanneer jy enige tyd onseker is waaroor om in jou joernaal te skryf, kan jy net skryf: "Vandag is ek dankbaar dat God my die vermoë gegee het om dankbaarheid te kies. Dis omdat Hy goed is, my liefhet en ek daarop kan vertrou dat Hy alles ten goede laat meewerk."


'n Laaste gedagte. As jou ouerlike angs erger word, dit oorgaan in ander vorms van angs, dit nie op gebed reageer nie, jou slaap laat verloor, of jou daaglikse lewe ontwrig, is dit tyd om verdere hulp te kry. Soek 'n dokter, 'n professionele berader en 'n leraar om vandag mee te gesels. Doen dit nou. Soek hulp. Maak seker dat jou liggaam, denke en gees die hulp kry wat nodig is. Het jy motivering nodig? Kyk na jou kind. Jou kind het jou nodig. 



Joernaal: Wat het vandag goed gegaan? Wat het jy om oor dankbaar te wees en hoekom? 


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

My Child’s Different: Support for the Ups & Downs

Hierdie leesplan is bedoel vir ouers van kinders met gestremdhede, wat verskillend is of enige spesiale behoeftes het — ongeag waar jy jou in jou reis bevind. Lees wat ander ouers en ondersteuners sê hoe om die gevoelens...

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid