Leesplan inligting

My Kind is Anders: Ondersteuning vir die Goeie en Slegte TyeVoorbeeld

My Child’s Different: Support for the Ups & Downs

DAG 4 VAN 8

Vandag se oordenking is deur Alice Thomas, ma van 'n seun met 'n rare genetiese gestremdheid, en wat obsessief is oor dolfyne en Superman.



Wat Nou As Jy Vir God Kwaad Is? 



Ek en my man het in verbysterde stilte gesit toe die neonataloog ons vertel die kanse is goed dat ons ongebore baba 'n gestremdheid kan hê. Ek kon nie ophou om na die ultraklank prentjie in my hand te staar en te soek na die "merkers" waarvan hy praat nie. Ek het die afspraak verbysterd, geskok en gebroke verlaat. Ek het seergemaak en verraai gevoel deur die Een wat altyd vir my moet sorg — kortliks, ek was kwaad vir God.



Dit was 22 jaar gelede wat die neonataloog ons daardie skokkende nuus meegedeel het, tog kan ek nog steeds die vloedgolf emosies onthou. Die vooruitsig het die toekoms van ons lewens verander. Al die hartseer, teleurstelling en gebrokenheid wat ek met die aanhoor van die nuus gevoel het, is in woede uitgestort.



Woede is 'n primêre emosie wat agter elke struikelblok, hindernis en terugslag wegkruip — dit wag net om jou te bespring en te verslind. As ek myself sou toelaat om sy prooi te word, sal ek nog kwater, meer verbitterd en gegriefd word. Onopgeloste woede is 'n aansteeklike siekte. Indien dit nie hanteer word nie, sal dit die liggaam, verstand en gees verwoes en jou vreugde, hoop, vrede en selfs liefde steel. Gelukkig het ek geleer hoe om te voorkom dat my woede my heeltemal aftakel. Dit is 'n eenvoudige drie-stap skoonmaakproses: bevraagteken, gee uiting en herbevestig.



Probeer hierdie drie stappe die volgende keer wat jy vir God kwaad voel.



1. Bevraagteken. Daar is altyd dieper, onderliggende emosies agter jou woede. Die eerste ding wat ek doen is om dit op te spoor. Ek vra myself vrae af soos: Waarom maak die omstandigheid my kwaad? Is ek vir God kwaad? Wat verwag ek van God om te doen? Dit gaan daaroor om al die vuilheid en bloed te verwyder sodat die wond blootgelê en behoorlik behandel kan word.



2. Gee uiting. Ek gee uiting deur te skryf. Ek gee nie om waaroor ek skryf of om die woordevloed te keer nie, want dit gaan juis oor bevryding. Ek het geleer om nooit bang of skaam te wees om enigiets aan God te erken nie, want wanneer ons aan ons woede teenoor God uiting gee, is ons eerlik met onsself. God weet reeds, dus kan ons net sowel met Hom eerlik wees.



3. Herbevestig. Nadat ek uiting gegee het, is die kritiese vraag wat ek myself elke keer afvra wanneer ek vir God kwaad is: vertrou ek God? Uiteindelik gaan dit nie oor wat God gedoen of nie gedoen het nie. Dit kom daarop neer of ek Hom vertrou of nie. Ek probeer om so presies as moontlik te wees waaroor ek God vertrou, net soos ek baie presies was waaroor ek vir God kwaad was.



Ek herbevestig met 'n gebed. My formule is baie eenvoudig — ek erken eers my vrese en besorgdhede en dan gebruik ek die frase: "maar ek vertrou U" om my gees te herlei. Dit is 'n natuurlike oorgang van uiting te gee aan al die negatiwiteit en om my dan aan hoop te herinner. Dit is die soort gebed wat ek bid nadat ek uiting gegee het:



Vader, ek weet nie waarheen hierdie reis my gaan neem nie en ek is bang, maar ek vertrou dat U met my sal wees. Dit is nie die weg wat ek vir myself sou kies nie, maar ek vertrou dat u weë en gedagtes soveel hoër as myne is. Ek voel oorweldig en ontoereikend om die ouer van 'n gestremde kind te wees, maar ek vertrou U sal my die wysheid gee wat en wanneer ek dit nodig het. Ek weet U het hierdie werk in my baba begin en ek vertrou U sal ook die werk in hom voltooi.



Om my vertroue in God te bevraagteken, daaraan uiting te gee en dit te herbevestig, het my gehelp om my gevoelens van woede teenoor God na die aanvanklike diagnose, te oorkom. Dit is iets wat ek voortdurend toepas omdat dit soveel vrede aan my gee. "Tog vertrou ek op U, o Vader" is my slagspreuk en gekose wapen, elke keer wanneer ek sien dat woede sy kop uitsteek. Dit trek my aandag van my omstandighede af en vestig dit ferm op Jesus.



Joernaal: Skryf jou eie weergawe van die "Tog vertrou ek op U, o Vader"-gebed.  


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

My Child’s Different: Support for the Ups & Downs

Hierdie leesplan is bedoel vir ouers van kinders met gestremdhede, wat verskillend is of enige spesiale behoeftes het — ongeag waar jy jou in jou reis bevind. Lees wat ander ouers en ondersteuners sê hoe om die gevoelens...

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid