7 Dae Om 'n Meer Vrygewige Persoon Te Word

Oordenking

Vrygewig met ons geld.


Ek glo nie 'n mens kan bepaal hoeveel ons veronderstel is om te gee nie. Ek is bevrees die enigste veilige reël is om meer te gee as wat ons kan bekostig. - C. S. Lewis


Ons het in dag vyf genoem dat daar honderde verwysings na geld in die Bybel is. Ons kan omtrent alles wat ons behoort te weet oor hierdie onderwerp daaruit leer. Terwyl geld nie 'n slegte ding is nie, is die liefde daarvoor beslis. 


Randy Alcorn het gesê: "Ons sal óf rykdom verloor terwyl ons leef, óf wanneer ons sterf. Geen uitsonderings nie." En tog, terwyl ons weet ons sal nie die aarde met geld verlaat nie, fokus ons op een of ander manier daarop om dit te versamel terwyl ons op aarde is. Ons bekom dit in 'n poging om meer geborge te voel, om meer belangrik voor te kom en om ons lys van besittings uit te brei. 


Terwyl ons leer om ons geld te bestuur, moet om God met 'n tiende te vertrou, bo-aan die lys wees. Die eerste tiende van ons geld is bekend as die tiende. Ons gee die tiende terug aan ons plaaslike kerk en vertrou God om dit te vermeerder tot Sy eer. 


Baie mense dink dat om die tiende te gee, baie vrygewig is. Dit is eintlik nie 'n saak van vrygewigheid nie maar van gehoorsaamheid. Om die tiende te gee is eenvoudig om terug te gee wat nie aan ons behoort nie. Siende dat God die eienaar van alles is en ons maar net die rentmeesters daarvan, hoe goedhartig is dit van Hom om ons toe te laat om rentmeesters van die ander 90% van ons inkomste te wees en dit te bestee soos ons goeddink. 


Dit is waar vrygewigheid inkom.


Om meer vrygewig met geld te kan word, moet ons ons seëninge herken, sodat ons die nood rondom ons kan raaksien. Wanneer ons sien wat ons alreeds het, sal ons geneig wees om met dankbaarheid te lewe, terwyl ons goed weet dat wat ons het meer as genoeg is. Dit laat ons oë oopgaan en die houvas op ons finansies verslap, sodat ons die kanaal kan word waardeur God begeer om Sy voorsiening na ander te lei.


So, kom ons begin geleidelik om ons persentasie bo 10% te verhoog, sodat ons die vrygewige skenkers kan word wat God kan gebruik. Ons kan: 



  • Spontaan gee.

  • Die kerk met meer as ons tiende ondersteun.

  • 'n Sak met benodigdhede vir 'n onderwyser gee.

  • 'n Groot fooitjie vir die kelner in die restaurant gee.

  • Babagoed vir jong moeders gee.

  • Vir 'n familie 'n geskenkbewys vir die kruidenierswinkel gee.


Daar is eintlik geen beperking op wat God deur ons gehoorsaamheid aan Hom kan doen nie. Hoe meer ons gee, hoe minder het geld 'n houvas op ons harte. Die bedoeling vir ons was om geld en dinge in die lewe te geniet, nie om dit lief te hê nie. In plaas daarvan, is ons geroepe om mense lief te hê en een van die beste maniere is om te help om in hulle finansiële behoeftes te voorsien. 


Oordink



  • Wanneer laas het jy vir iets nee gesê het wat jy graag wou hê, sodat jy finansieël vrygewig kon wees teenoor iemand anders?

  • Watter aanpassing kan jy in jou maandelikse uitgawes maak, sodat jy in iemand ander se nood kan voorsien?