Leesplan inligting

Die Konstruksie Van Die TabernakelVoorbeeld

Die Konstruksie Van Die Tabernakel

DAG 7 VAN 10

DIE BINNE-BEDEKKINGS (Ex 26:1-14; 36:8-19)


Die twee binne-tentdoeke word “die tabernakel” (Ex 26:6) en “die tent” (Ex 26:11) genoem.



  • DIE TABERNAKEL (Ex 26:1,6) – Dié stel tentdoeke is “die tabernakel” genoem   omdat dit eintlik die plafon van die tabernakel was. Om hierdie tiendelige en veelkleurige (pers, purperrooi en bloedrooi) tentdoek van fyn dubbeldraad-linne met die gérubs daarop uitgewerk, te sien, was alleen die priesters wat in die      tabernakel diens gedoen het, beskore. Dit spreek alles van Christus se verborge innerlike heerlikheid, naamlik Sy geregtigheid; Sy Goddelikheid; Sy koninklikheid en Sy mensheid.


In die Heilige plek was die lig van die goue kandelaar nie baie helder nie en was die prag van die tabernakel dus nie duidelik sigbaar nie. Só is Christus se heerlikheid in die Kerk (die Heilige plek in die tabernakel) vandag ook in ’n mate onsigbaar.


Die Allerheiligste plek, weer, is deur God se Heerlikheid verlig. In daardie lig kon die hoëpriester duidelik die prag en die praal van die tabernakel aanskou. Só sal en kan Christus se Heerlikheid eers gesien word wanneer ons eendag in die hemel is. In die heerlike lig van God sal ons Christus in al Sy krag, majesteit en prag sien, “want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig” (1 Kor 13:12). Dan eers sal ons Hom sien soos Hy is (Op 1:13-16).


In die veelkleurige tentdoek wat Christus in Sy veelvoudige heerlikheid uitbeeld, is ook gérubs uitgewerk. Gérubs spreek van die intense onverbiddelikheid van Christus se oordeel (Gen 3:24). Die Here is nie alleen ’n God van liefde nie, maar Hy is ook die Regter van die wêreld (Hand 17:31; Joh 5:22). Stephen Olford vat alles mooi saam waar hy skryf: “Thus, in this glorious inner curtain, we have a full-length portrait of God’s Son in His humanity, His divinity, His regality, His humility, and His severity in coming judgment. How incomparable glorious and victorious is the Christ of God!



  • DIE TENT (Ex 26:7; 36: 14-18) – Die tentseil van bokhaar wys op      verskillende aspekte van Christus se lewe op aarde.


Die tentseil van bokhaar was die gevolg van God se keuse van vroue om dit te maak (Ex 35:26). Die Here Jesus was, sover dit Sy mensheid aangaan, die gevolglike keuse van vroue deur God. Deur die eeue heen, van Eva se tyd, het God vroue uitgesonder deur wie Christus uiteindelik in die wêreld sou kom. In die geslagsregister in Matthéüs 1:1-17 word vyf vroue genoem: Tamar, Ragab, Rut, Bátseba en Maria. Deur hulle het God sy Seun se mensheid geweef, soos die gekose vroue die bokhaar in die tentseil geweef het. Die tentseil tipeer dan Jesus se mensheid (Heb 2: 16, 17).


Die tentseil van bokhaar was in elf stroke – tien was onsigbaar en een was sigbaar (Ex 26:7, 9). Tien-elfdes van die tentseil was onder die dekkledings van rams-en robbevelle verberg. Die elfde strook was aan die voorkant van die tabernakel dubbel gevou en was dus so sigbaar. Kyk ons nou na die lewe van Christus, sien ons gou die betekenis hiervan. Slemming stel dit so vir ons voor: “Christ spent approximately thirty-three years on this earth, that is eleven threes. Ten elevenths of this life, which is thirty years, were spent in secret . . . Then, at the age of thirty, John said: ‘Behold’ and pointed the people to ‘the Lamb of God that taketh away the sin of the world’, and so, for the last eleventh of His life, in a three year ministry, He was revealed to the world – as what? The sin-offering, as John declared Him to be”.


Die tentseil van bokhaar spreek van die sondoffer (Lev 9:15). In Levitikus 4:23 en 24, lees ons dat die persoon wat gesondig het, sy hande op die bokram se kop moes lê en hom dan laat slag as ’n versoening van sy sonde. Die oplê van die hande op die bok se kop wys op die oordrag van die persoon se sonde op die plaasvervangende bokram. Só het Christus ook die mens se sonde op Hom geneem en só sonde vir ons geword (2 Kor 5:21), om in ons plek die skuld van die sonde te dra (Rom 8:3; 1 Pet 2:24).


Hier het ons dan die twee aspekte van die twee bokramme, die een was geslag en die ander is lewend die woestyn ingejaag. Só moes Jesus eers sterf voordat Hy ons sondes kon wegdra: “Hy (het) Sy siel uitgestort . . . in die dood . . . terwyl Hy . . . die sonde van baie gedra . . . het” (Jes 53: 12).

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Die Konstruksie Van Die Tabernakel

Reg aan die begin van ons studie rakende die tabernakel moet ’n keuse gemaak word: Begin ons by die Allerheiligste soos ons sien die Bybel dit in Exodus 25 doen, begin ons by die silwerfondament van die tabernakel self, ...

More

Ons wil graag bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid