Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 7 VAN 40

PAD NA JOU HART


“ Julle moenie so vasgevang raak in julle besige lewens dat julle nie agterkom hoe laat dit al is nie.”– Romeine 13:11 (DB)


“Jesus stel toe voor dat net hulle klein groepie saam na ’n stil plek gaan om ’n bietjie te gaan rus.” – Markus 6:31 (DB)


“Net soos vis doodgaan as hulle op droë grond bly, net so verloor monnike hulle wil om in afgesonderde gebed te volhard, as hulle ver wegbly van hulle selle af. Daarom moet ons na ons selle terugkeer, net soos die visse terug see toe moet gaan, sodat ons nie vergeet om na ons innerlike om te sien nie.” – Abba Anthony


Ek herontdek die pad na my hart wanneer ek terugkeer en weer in my sel gaan sit, waar ek myself afsluit van alle uiterlike stimulasie. Thomas à Kempis, die klassieke geestelike skrywer, sê:  “... wie ook al vasberade is om 'n innerlike en geestelike lewe te leef, moet saam met Jesus ontvlug van die skare.” Die sel is ’n plek van afsondering. Ekstroverte kan afsondering soms baie moeilik vind. Hulle kry hul energie van die wêreld daarbuite of deur interaksie en stimulasie. Dit is egter nodig om by onsself uit te kom om sodoende ook by God te kan uitkom, maar die innerlike stilte wat daarop volg is dikwels moeiliker. Alhoewel introverte uiterlik makliker stil raak as hulle in afsondering is, is dit dikwels moeiliker vir hulle om aan die binnekant stil te raak. Die sel leer ons om dit wat nou uiterlik met ons gebeur, innerlik te laat plaasvind. Al die geraas, bekommernis, woede en bitterheid in my moet ek laat vaar. My bekommernis oor alles wat gedoen moet word in my besige lewe, moet tot rus kom.


Paulus se raad in Romeine 13:11 is dat ons versigtig moet wees om nie so vasgevang te word in dit wat ons elke dag moet doen nie. So sal ons onsself uitbrand en onbewus raak van God. Ons natuurlike aard is besorgdheid; ons is baie besig om planne in ons koppe te maak, gesprekke te voer, uit te werk wat ons wil doen, terug te gaan na wat gebeur het en hoe ons dinge anders kon gedoen het. Hoe wonderlik sou dit wees as dinge net anders kon gebeur het! Ons begin in ons koppe leef en nie in die werklike lewe nie. Die sel vat ons na ons hart toe. In die sel is daar niks. Niks om te bereik nie. Niks om te doen nie. Ek kan net daar wees saam met Hom.


GEDAGTE VIR DIE DAG


Stop. Word stil. Leef in die hier-en-nou.


VIR NADENKE


Dink ’n oomblik na oor hierdie dag wat verby is. Het jy in die hier-en-nou geleef? Teenoor God en teenoor mense? Hoe het jou vol program vandag jou bewussyn van God beïnvloed? Raak vir 'n oomblik stil, haal diep asem, en keer terug na die innerlike sel van jou hart waar God is. Dink oor hoe jy môre jouself kan herinner om gereeld deur die dag terug te keer na hierdie plek toe.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid