Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 11 VAN 40

VOLHARDING IN STILTE


“. . . laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” – Galasiërs 6:9


“Daar word vertel dat Abba John die Dwerg, van die normale lewe onttrek het en in die woestyn by Scetis saam met 'n ou man van Thebes gaan woon het. Sy abba  het 'n stuk droë hout gevat, dit geplant en vir hom gesê: "Gee dit elke dag water met 'n bottel water, totdat dit vrugte dra." Die water was egter so ver weg, dat hy saans moes loop en eers die volgende oggend teruggekom het. Na drie jaar het die hout begin lewe en vrugte gedra. Die ou man vat toe van die vrugte na die kerk toe en sê vir die broeders: "Vat dit en eet die vrugte van gehoorsaamheid.”


“Die rede hoekom so baie godsdienstige mense glo dat hulle nie kan mediteer nie, is dat hulle dink meditasie gaan oor jou godsdienstige emosies, gedagtes of gevoelens waarvan jy deeglik bewus is. Sodra hulle begin mediteer, kyk hulle na die psigologiese gewete om uit te vind of hulle iets van waarde ervaar. Hulle vind 'n klein bietjie of niks. Hulle probeer of baie hard om 'n innerlike ervaring te produseer, of gee teensinnig moed op.” - Thomas Merton


Wat as daar niks met ons in die stilte gebeur nie? Ons voel niks, ons ervaar niks, al wat ons beleef is net die droogte van die woestyn. Hierdie woestynstorie wat van Abba John die Dwerg vertel word, wys vir ons iets omtrent die deursettingsvermoë wat nodig is om dag-in en dag-uit in ons sel te bly sit, al voel ons daar gebeur niks nie. Die groot rede, sê Thomas Merton, waarom soveel gelowiges tou opgooi wanneer dit by meditasie (in stilte sit) kom, is omdat hulle dink dat mens iets moet ervaar soos goeie gevoelens of sterk emosies. Al wat nodig is, is om getrou te bly en God met hierdie proses te vertrou. Ons moet bloot net opdaag om in stilte te sit, ongeag of ons iets ervaar waarvan ons bewus is. Ons moet na ons sel toe gaan sonder om enige verwagting van ’n spesifieke gevoel of ervaring te wil hê. Die getrouheid om dag na dag gehoorsaam in die woestyn te bly, ten spyte van die droogte, kan dalk lei na groot vrug, vrug wat nie net vir onsself is nie, maar ook vir ander: “Na drie jaar het die hout begin lewe en vrugte gedra. Die ou man vat toe van die vrugte na die kerk toe en sê vir die broeders: 'Vat dit en eet die vrugte van gehoorsaamheid.'" Ons moet langtermyn dink oor wat die effek van stilte op ons sal hê en nie ’n vinnige oplossing soek nie.


GEDAGTE VIR DIE DAG


Ek moet langtermyn dink. Ek moet net aanhou.


VIR NADENKE


Het jy al in die verlede met ’n gereelde geestelike dissipline begin en weer opgehou? Hoe het jy gevoel toe jy dit beoefen het? Hoe het jy gevoel toe jy dit laat vaar het? Wat het jy van God ervaar in jou beoefening van hierdie dissipline? Wat het jy van God gemis toe jy dit nie beoefen het nie? Vra God om jou die begeerte, die ywer en die genade te gee om Hom môre, deur jou daaglikse roetines te bly volg.

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid