Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 12 VAN 40

BLYDSKAP


“ Wees altyd vol blydskap. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor! Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.” - 1 Tess 5:16–18 (DB)


Gebed is die geneesmiddel vir neerslagtigheid en moedeloosheid. – Woestyngesegde


Paulus sê: “Wees altyd vol blydskap. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie.” (1 Tessalonisense 5:16–18, DB). Die woestynvaders, net soos Paulus, trek ’n direkte lyn tussen ons innerlike gemoed en gebed. Vandag is terapie en medikasie die algemeenste oplossing om ons gemoed te kan verander. Die woestynvaders kan seker gesien word as die eerste sielkundiges. Met hul sterk psigo-spirituele aanslag het hulle die innerlike wêreld en die lewe baie ernstig opgeneem. Henri Nouwen verwys na Vader Antonie as ’n voorbeeld van só ’n “woestynsielkundige” wat deur sy afsondering barmhartig geword het: “Antonie het geleer om die harte van mense en die stemming van sy tyd te diagnoseer en insig, gemak en vertroosting aan te bied. Alleen-wees het hom 'n baie deernisvolle man gemaak.” Die manier waarop daar met die innerlike wêreld van Vader Antonie gewerk moes word, was die pad van gebed, en dit het gewerk.


Evagrius skryf van Vader Macarios van Egipte: “Hy was in voortdurende ekstase en hy het homself meer met God besig gehou as met aardse dinge.” In die geskiedenis van die mensdom is ons kanse soveel groter om die pad na ’n lewe van geluk te vind met alles wat ons vandag tot ons beskikking het, soos ons kennis van medikasie en terapie. Maar bowenal staan ons in 'n verhouding met God waar ons hierdie innerlike werk kan doen om blydskap te ervaar. Kan ons nie ten spyte van ons hartseer, moedeloosheid, vrees, magteloosheid en teleurstelling, ’n plek in ons ontdek waar vrede en geluk te vinde is nie? Paulus sê ons moet met al hierdie uitdagings wat ons in die gesig staar, na die Here toe gaan en dit met smeking en danksegging aan Hom bekend maak en dan sal sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, ons harte en sinne bewaar. (Filippense 4:6–7)


GEDAGTE VIR DIE DAG


Ek kan bly wees in Hom. Ek kan bid vir blydskap.


VIR NADENKE


Is daar iets wat swaar op jou hart rus? Is daar ’n uitdaging of ’n verhouding wat jou op die oomblik ongelukkig maak? Bring dit na God toe en gesels met Hom daaroor. Maak jou sorge en jou seer in eerlikheid aan Hom bekend. Vra God om jou oë oop te maak sodat jy elkeen van sy genadegawes wat vandag na jou toe gekom het, kan sien en diep dankbaar wees daarvoor.

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid