Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 9 VAN 40

INNERLIKE STILTE


“Wees stil en weet dat Ek God is.” – Psalm 46:10


“Ontvlug, wees stil, bid gedurig.” – Woorde van Arsenius


Afsondering, stilte en onophoudelike gebed, is moontlik die drie kernbegrippe van woestyngeestelikheid. Dit is deur te ontvlug en te bid wat ons gehelp word om ook stilte te verkry. Ontvlugting is eers om jouself af te sonder. Dit is om in die woestyn in te gaan, dit is ’n plek waarheen die Gees ons lei en uitnooi. Volgens Henri Nouwen is daar nie eintlik ’n geestelike lewe sonder afsondering nie. Uiterlike stilte, die afsny van stimulasie en geraas, is egter nie genoeg om innerlike stilte mee te bring nie. Dit is ook deur gebed wat die innerlike stilte meegebring word. Twee baie ou bekende maniere is om ’n kort gebed saggies by jouself te bid, ’n gebedswoord of ’n kort frase gereeld te herhaal. Die oomblik wanneer jy daarvan bewus word dat jou gedagtes dwaal en dat jy besig is met iets anders, gebruik jy net die woord om jou voorneme om na God terug te keer, te bevestig. Op hierdie manier kan daar innerlike stilte in jou teweeggebring word. Dit is ’n plek van groot vrede en rus. Paulus beskryf hierdie plek as ’n plek waar die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, jou hart en sinne in Christus Jesus sal bewaar. (Filippense 4:7)


“Enige beproewing wat jou pad langs kom, kan in stilte oorwin word.” – Abba Pastor


GEDAGTE VIR DIE DAG


“Wanneer ons die woord of frase gevind het wat ons in gebed anker, die prewelgebed wat ons laat stil word en gefokus hou, ontdek ons iets van die genade en krag wat ons in ooreenstemming met God se kommunikasie bring, in gesprek sowel as stilte.”  – Rowan Williams


VIR NADENKE


Dink vir ’n oomblik terug oor die dag wat verby is. Vra die Here om jou te help om hierdie dag deur sy oë te sien. Wat was jou hoogtepunt? Wat was jou laagtepunt? Praat met die Here daaroor. Was jy vandag bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe? Het jy innerlike stilte ervaar? Was daar ’n kort frase waarnatoe jy gereeld teruggekeer het? Het jy God daardeur beleef? Vra die Here om vir jou ’n frase te gee wat jy môre herhaaldelik deur die dag kan bid, wat jou aan Hom kan herinner.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid